Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanstydskrifte—“Tel my op en koop my!”

Glanstydskrifte—“Tel my op en koop my!”

Glanstydskrifte—“Tel my op en koop my!”

DAAR lê hulle, kleurvol en helder, en hulle ding almal om jou aandag mee. Jy het nie eers bedoel om te stop en te kyk nie, maar nou lok die kleurvolle uitstalling jou. Dit lyk of al die glanstydskrifte by die boekstalletjie sê: “Tel my op en koop my!” En terwyl dit oor die algemeen waar is dat jy nie iets na sy uiterlike moet oordeel nie, moet daar erken word dat voorbladfoto’s van glanstydskrifte ’n besonder sterk uitwerking op voornemende kopers het. In baie lande word die mark met hierdie tydskrifte oorstroom, en hulle ding hewig om verkope mee.

Tydskrifte kan in twee hoofkategorieë verdeel word: spesialiteitstydskrifte—wat ook handels- en vaktydskrifte genoem word—en verbruikerstydskrifte. Hoewel dit wil voorkom of laasgenoemde omtrent enige onderwerp dek, het die uitgewers wel sekere teikengroepe. Tydskrifte verskil van koerante in vorm en inhoud. Hulle is meer kompak en word op papier van beter gehalte gedruk, wat hulle gewoonlik die glansafwerking gee wat vir die koper so aantreklik is. Wat inhoud betref, is vinnig veranderende gebeurtenisse en nuusberigte oor die algemeen vir tydskrifte van minder belang as vir koerante. Hulle verteenwoordig ’n verskeidenheid skrywers en dek uiteenlopende onderwerpe en menings. Verskillende skryfstyle word ook gebruik, wat wissel van ’n feitelike tot ’n meer persoonlike en emosionele styl.

Terwyl jy na die tydskrifte by die boekstalletjie staan en kyk, sal verskeie faktore heel waarskynlik jou keuse beïnvloed of jou selfs help om te besluit of jy ’n tydskrif gaan koop of nie. Jou geslag is natuurlik ’n groot faktor, asook die onderwerpe waarin jy belangstel en dalk bowenal die prys van die tydskrif. Ja, glanstydskrifte kan nogal duur wees, dalk drie of vier keer die prys van ’n koerant. Maar vandag se koerant sal gou in die asblik beland en deur môre s’n vervang word, terwyl ’n tydskrif ’n langer lewensduur kan hê. Die tydskrif wat jy kies, kan jy op jou gemak lees, en jy kan dit weke of maande lank hou en moontlik vir ander gee om te lees. Biblioteke stel soms in ouer nommers belang, en sommige tydskrifte word versamelstukke.

Goeie waarde vir geld?

Of jy dink dat glanstydskrifte die geld werd is of nie, is natuurlik iets waaroor jy self moet besluit. Die hoofrede waarom hierdie tydskrifte so duur is, is dat dit taamlik baie kos om dit te publiseer. ’n Uitgewer moet omvattende marknavorsing doen voordat hy ’n nuwe tydskrif op ’n reeds mededingende mark bekendstel. ’n Groep maatskappye sal deesdae tot 30 of meer verskillende tydskrifte publiseer en dit in hulle eie drukkery druk. Nogtans is hulle uitgawes hoog omdat elke publikasie sy eie personeel nodig het.

As jy na die binneblad van ’n verbruikerstydskrif kyk, sal jy verbaas wees om te sien hoeveel redakteurs en bestuurders nodig is. Elkeen sien om na ’n ander rubriek in die tydskrif en elkeen het sy of haar eie personeel. Groter tydskrifte gebruik gewoonlik hulle eie skrywers en fotograwe, hoewel baie skrywers en fotograwe onafhanklik werk of vryskutwerk doen deur ’n agentskap, wat beteken dat daar op ’n gereelde of deeltydse grondslag van hulle diens gebruik gemaak word.

Alle artikels wat skrywers instuur, moet deur proeflesers nagegaan word. Groot dele daarvan word oorgeskryf of ten minste tot ’n sekere mate deur subredakteurs verander. Aangesien prente ’n groot deel van glanstydskrifte uitmaak, word grafiese ontwerpers benodig. Samestellers begin met die algemene uitleg van die artikel en besluit wat op elke bladsy sal verskyn. Die teks en prente moet op ’n manier aangebied word wat vir die leser aantreklik sal wees en die oog van die een deel na die volgende sal lei. Die meeste uitgewersmaatskappye gebruik ’n stylboek—’n handleiding wat die terme en style uiteensit wat in hulle publikasies gebruik moet word. Die hoofredakteur dra die finale verantwoordelikheid. Hy of sy sal vinnige besluite moet neem sodat die tydskrif betyds persklaar gemaak kan word. Voordat dit pers toe gaan, word ’n proefeksemplaar voorberei wat deur seniorpersoneellede nagegaan word.

Uitgawes sluit druk- en verspreidingkoste sowel as salarisse in. Omdat nie alle eksemplare wat gedruk word, verkoop sal word nie, aanvaar kleinhandelaars gewoonlik grootmaatvoorraad op ’n verkoop-of-terugstuur-basis. Jy is reg as jy dink dat die verkoopprys nie die produksiekoste dek nie. Om die waarheid te sê, die gemiddelde verbruikerstydskrif sou nie op die mark kon bly as ’n groot deel van die inhoud nie aan advertensies gewy word nie. ’n Onlangse internasionale glanstydskrif van 200 bladsye het meer as 80 bladsye vol advertensies gehad. Adverteerders besef dat glanspapier van goeie gehalte en vierkleurdruk hulle produkte goed sal laat lyk.

Daar word geskat dat elke persoon in Australië gemiddeld 1,2 minute per dag daaraan bestee om ’n tydskrif te lees. Dit is in vergelyking met 1,1 minute per dag wat daaraan bestee word om rolprente te kyk of 0,7 minute per dag om na musiek te luister. Dit is ongetwyfeld een rede waarom tydskrifte ’n winsgewende advertensiemiddel is.

Die aantrekkingskrag

Hoewel ons nie elke tydskrif wat uitgegee word, kan bespreek nie, kan ons kortliks na vrouetydskrifte kyk. In die laaste tyd is die soeklig gewerp op die inhoud van vrouetydskrifte, want hoewel party mense meen dat dit skadeloos is, voel ander dat dit vroue uitbuit. Mense vind dit beslis opwindend en glansryk, en dít dra tot die verkope by. Maar vrouetydskrifte het oor die afgelope paar jaar verander. Van die tydskrifte wat gewoonlik net artikels oor huishoudelike sake bevat het, bevat nou meer artikels oor beroemdes. Artikels oor gesondheid het ook gewild geword. Vroue het dit geniet om die kortverhale te lees, en die vervolgverhale het dikwels verkope opgestoot. Maar nou bevat net ’n paar glanstydskrifte kortverhale en vervolgverhale.

Wat laat glanstydskrifte vandag verkoop? Dit is wat op die voorblad verskyn wat blykbaar uitroep: “Tel my op en koop my!” As ’n vrou op die voorblad verskyn, moet sy beroemd of mooi wees. Die voorbladnooi moet ook jonk en skraal wees, en digitale manipulering laat die foto so goed moontlik lyk. Wat van die bewoording op die voorblad? Dit verander natuurlik afhangende van die ouderdom en lewenstyl van die teikengroep. Party voorblaaie vestig die aandag op mode; ander bied pryse aan wat gewen kan word. Die voorblad gee ’n mens dikwels ’n aanduiding van wat in die tydskrif is.

Kan glanstydskrifte ons beïnvloed?

Uitgewers van tydskrifte beweer dat hulle weet wat vroue wil hê. En dit is waar dat hulle omvattende marknavorsing doen om uit te vind wat vroue oor die algemeen wil hê. Maar die vraag ontstaan: Voorsien hulle in ’n behoefte wat werklik bestaan, of het hulle self ’n behoefte geskep sodat hulle dit kan bevredig? Kom ons kyk na maniere waarop baie vrouetydskrifte mense se denke vorm. Eerstens, die feit dat die lewenstyle en menings van beroemdes voortdurend gedek word. Dit is dalk waaroor mense wil lees, maar kan dit versteekte gevare inhou? In sy studie About Face waarsku Jonathan Cole, ’n kliniese neurofisioloog aan die Universiteit van Southampton, Engeland, dat dit denkbeeldige intimiteit tot gevolg kan hê as ’n mens ’n gesig ken sonder dat jy die persoon ontmoet het of sy of haar stem gehoor het. Voeg hierby al die inligting wat oor beroemdes beskikbaar is, en dit verklaar moontlik die hedendaagse verskynsel van diepe droefheid van die kant van die publiek oor die dood van mense wat hulle nie geken het nie, maar wie se foto’s hulle dikwels in glanstydskrifte gesien het. Televisie- en koerantberigte kan natuurlik ook tot hierdie illusie van intimiteit bydra.

’n Ander saak waarop die soeklig nou val, is die vermoë van tydskrifte om vroue se gesindheid te beïnvloed oor wat as ’n aanvaarbare liggaamsbeeld beskou word. Hoewel standaarde van land tot land verskil, is die algemene boodskap wat vrouetydskrifte in ontwikkelde lande nou uitstuur: dun is in. Opvoedkundiges, ouers en selfs modelle het hulle afkeuring uitgespreek oor die feit dat die beelde wat gedurig in vrouetydskrifte verskyn, ongetwyfeld deels verantwoordelik is vir die toename in eetversteurings en nimmereindigende dieetgiere onder vroue—veral jong vroue.

’n Australiese uitgawe van ’n internasionale tydskrif het ’n opname onder sy lesers gedoen om te sien of hierdie aantygings geldig is en het ’n paneel deskundiges genooi om oor die uitslag kommentaar te lewer. Meer as 2 000 vroue het deelgeneem en 82 persent van hulle was tussen 16 en 29 jaar oud. ’n Gewigstabel is geraadpleeg—’n tabel van aanbevole gewig volgens lengte, ouderdom, ensovoorts. Omtrent 60 persent van die vroue het gedink hulle is oorgewig, hoewel net 22,6 persent swaarder was as wat aanbeveel is. Hoewel 59 persent van diegene wat ligter as die aanbevole gewig was, gedink het hulle is binne die normale gewigsgrense, het 58 persent wat binne die normale gewigsgrense was, gedink hulle is oorgewig. Net 12 persent was tevrede met hulle gewig. Party het die tabel gekritiseer wat deur die Gesondheidsdepartement van die Australiese Gemenebes voorsien is en het beweer dat die gewigsvlakke vir elke lengte te hoog is. Daarbenewens het 67 persent erken dat hulle gedurig ander vroue hulle liggaam beny, en 1 uit 8 het erken dat sy op die oomblik ’n kompulsiewe eetversteuring het of vroeër aan een gely het.

Fiona Pelly, die dieetkundige op die paneel, het gesê: “Dit is duidelik dat gewig ’n hoë prioriteit in vroue se lewe word.” En dr. Janice Russell, hoof van ’n eetversteuringskliniek in Sydney, het gesê: “Wat selfs skadeliker is, is dat skuldgevoelens en afguns [volgens die opname] dikwels voorkom. Dit is nie gesond om heeltyd sulke gevoelens te hê nie.”

Maar die betekenisvolste bevinding was dat hoewel van die respondente erken het dat hulle rolprentsterre naboots, 72 persent gesê het dat modelle wat in tydskrifte verskyn, hulle die meeste beïnvloed. ’n Jong vrou, wat hulp by ’n dieetkliniek ontvang het, het gesê dat sy trots is om 55 kilogram te weeg, maar het erken: “Ek voel nog steeds die druk, van die media, tydskrifte en beroemdes.” Ander opnames wat op ander plekke gedoen is, het soortgelyke uitslae gehad.

Twee tydskrifte van ’n ander aard

Een van die opbouendste en leersaamste tydskrifte wat beskikbaar is, is die een wat jy in jou hande het, die Ontwaak! Jy het dit nie by ’n boekstalletjie gekoop nie—’n verbyganger het dit dalk vir jou aangebied, of iemand het dit moontlik na jou huis gebring. Hierdie tydskrif word wêreldwyd deur vrywilligers uitgegee, gedruk en versprei en word kosteloos aangebied. Skrywers vir die Ontwaak! stuur artikels van oor die hele wêreld, en hulle, sowel as al die kunstenaars en vertalers, is ook vrywilligers. Die Ontwaak! is vir die eerste keer in 1946 uitgegee. Sy voorgangers was die Vertroosting en The Golden Age, wat in 1919 die lig gesien het. Hierdie tydskrifte is nog altyd sonder enige betaalde reklame uitgegee. Die Ontwaak! word tans in 87 tale gedruk, waarvan baie twee keer per maand gedruk word, en het ’n wêreldwye verspreiding van meer as 22 miljoen eksemplare.

Die Wagtoring, wat die Ontwaak! se medetydskrif is en tans in 148 tale gedruk word, het selfs ’n indrukwekkender rekord. Meer as 25 miljoen eksemplare word van elke nommer van Die Wagtoring gedruk, en dit is sedert 1879 in omloop. Hierdie twee tydskrifte het saam ’n waardevolle bydrae gelewer om mense oor belangrike sake in hulle lewe in te lig, en wêreldwyd vind mans, vroue en jongmense daarby baat.

Almal van ons moet nadink oor die feit dat ons nie met kennis gebore word nie. Wysheid en kennis word verkry namate ons groei en ontwikkel, en dikwels word ons menings en lewenswyse gevorm deur wat ons lees. Dit is waarom dit so belangrik is om leesstof te kies wat die moeite werd en opbouend is.

[Prent op bladsy 25]

Tydskrifte kan ’n mens se gesindheid oor jou liggaamsbeeld beïnvloed

[Prent op bladsy 26]

Hoewel dit nie glanstydskrifte is nie, het “Die Wagtoring” ’n oplaag van meer as 25 miljoen eksemplare in 148 tale en die “Ontwaak!” ’n oplaag van meer as 22 miljoen eksemplare in 87 tale