Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die beste speelgoed

Die beste speelgoed

Die beste speelgoed

Watter soort speelgoed moet ek vir my kind kry? Hoeveel geld moet ek spandeer? As jy ’n ouer is, het jy hierdie vrae waarskynlik al baie keer gevra. Wel, die goeie nuus is dat die goedkoopste speelgoed moontlik die beste is.

“Kinders vind meer baat by persoonlike deelname en ontdekking as by passiewe waarneming, en dus is eenvoudige speelgoed wat verbeeldingskrag vereis, beter as duur batteryaangedrewe speelgoedkarre of pratende poppe, waarmee jou kind net sekere dinge kan doen”, sê die boek Motivated Minds—Raising Children to Love Learning. Hierdie speelgoed is dalk “aanvanklik pret, maar kinders verloor gewoonlik gou belangstelling daarin omdat dit hulle nie in staat stel om te eksperimenteer, te verken of skeppend te wees nie”.

Afhangende van ’n kind se ouderdom sluit speelgoed wat die verstand stimuleer, eenvoudige dinge in soos boublokke, leë bokse, papier, kunsgereedskap en selfs sand en water. “Klein speelgoed, soos plaasdiere”, sê Motivated Minds, “sal [’n kind] die geleentheid gee om te sorteer, te groepeer en te vergelyk, asook sy taalvaardighede te ontwikkel deur stories uit te dink.” Die boek stel ook eenvoudige musiekinstrumente voor—as jy bereid is om die geraas te verduur—want dit maak dit vir kinders moontlik om klanke en klankpatrone te ontdek.

Kinders het ’n lewendige verbeelding, en hulle is gretig om te leer sowel as om te speel. Help hulle dus op al drie gebiede deur hulle speelgoed verstandig te kies.