Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe vooroordeel geopenbaar word

Hoe vooroordeel geopenbaar word

Hoe vooroordeel geopenbaar word

“Dryf vooroordeel by die deur uit, en dit sal deur die venster terugkeer.”—Frederik die Grote, koning van Pruise.

RAJESH woon in Paliyad, ’n dorp in Indië. Soos ander onaanraakbares moet hy 15 minute loop om water na sy gesin se huis toe aan te dra. “Ons mag nie die krane in die dorp gebruik wat die hoër kastes gebruik nie”, verduidelik hy. Toe hy op skool was, kon Rajesh en sy vriende nie eens aan die voetbal raak waarmee die ander kinders sokker gespeel het nie. “Ons het maar met klippe gespeel”, sê hy.

“Ek voel aan dat mense my haat, maar ek weet nie waarom nie”, sê Christina, ’n tiener van Asië wat in Europa woon. “Dis baie frustrerend”, voeg sy by. “Ek reageer gewoonlik daarop deur my af te sonder, maar dit help ook nie.”

“Ek het die eerste keer met vooroordeel te doen gekry toe ek 16 was”, sê Stanley, van Wes-Afrika. “Wildvreemdelinge het vir my gesê dat ek uit die dorp moet padgee. Van my stamlede se huise is afgebrand. My pa se bankrekening is bevries. Gevolglik het ek die stam begin haat wat teen ons gediskrimineer het.”

Rajesh, Christina en Stanley is slagoffers van vooroordeel, en hulle is nie die enigstes nie. “Honderdmiljoene mense ly vandag nog weens rassisme, diskriminasie, xenofobie en uitsluiting”, verduidelik Koitsjiro Matsoera, direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO). “Hierdie gebruike wat mense hulle waardigheid ontneem en deur onkunde en vooroordeel gevoed word, het in baie lande tot burgertwis aanleiding gegee en geweldige menselyding tot gevolg gehad.”

As jy nog nooit ’n slagoffer van vooroordeel was nie, is dit dalk vir jou moeilik om te begryp hoe traumaties dit is. “Party verduur dit stilswyend. Ander vergeld vooroordeel met meer vooroordeel”, sê die boek Face to Face Against Prejudice. In watter opsigte skaad vooroordeel mense?

As jy tot ’n minderheidsgroep behoort, vind jy dalk dat mense jou vermy, jou skeef aankyk of neerhalende aanmerkings oor jou kultuur maak. Werksgeleenthede is moontlik skaars tensy jy werk aanvaar wat niemand anders wil hê nie. Dit is miskien moeilik om behoorlike verblyf te kry. Jou kinders voel dalk dat hulle afgesonder is en deur klasmaats by die skool verwerp word.

Nog erger, vooroordeel kan mense tot geweld of selfs moord dryf. Trouens, die geskiedenis is vol hartverskeurende voorbeelde van die geweld waartoe vooroordeel kan lei—insluitende slagtings, volksmoorde en sogenaamde etniese suiwerings.

Vooroordeel deur die eeue heen

’n Tyd lank was Christene die hoofteikens van vooroordeel. Kort ná Jesus se dood moes hulle byvoorbeeld ’n vlaag van wrede vervolging verduur (Handelinge 8:3; 9:1, 2; 26:10, 11). Twee eeue later is verklaarde Christene wreed mishandel. “As daar ’n pessiekte is”, het die derde-eeuse skrywer Tertullianus geskryf, “word daar dadelik uitgeroep: ‘Gooi die Christene vir die leeus.’”

Maar sedert die Kruistogte in die 11de eeu het die Jode die ongewilde minderheid in Europa geword. Toe builepes deur die Vasteland versprei het en binne net ’n paar jaar sowat ’n kwart van die bevolking uitgewis het, was dit maklik om die Jode die skuld te gee, aangesien baie mense hulle reeds gehaat het. “Die pes het ’n verskoning vir hierdie haat voorsien, en die haat het mense se vrees vir die pes van ’n fokus voorsien”, skryf Jeanette Farrel in haar boek Invisible Enemies.

Uiteindelik het ’n Joodse man in die suide van Frankryk onder marteling “bely” dat Jode die epidemie veroorsaak het deur die putte te vergiftig. Sy belydenis was natuurlik vals, maar die inligting is as die waarheid bekend gemaak. Kort voor lank is Joodse gemeenskappe in Spanje, Frankryk en Duitsland geheel en al uitgewis. Niemand het hulle blykbaar aan die ware oorsaak—die rotte—gesteur nie. En min mense het opgelet dat Jode ook weens die pes gesterf het, net soos al die ander!

Wanneer vooroordeel eers opgevlam het, kan dit eeue lank smeul. Gedurende die middel van die 20ste eeu het Adolf Hitler die vlamme van anti-Semitisme aangeblaas deur die Jode die skuld te gee vir Duitsland se nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Rudolf Hoess—die Nazi-bevelvoerder van die Auschwitz-konsentrasiekamp—erken: “Weens ons militêre en ideologiese opleiding het ons dit as vanselfsprekend aangeneem dat ons Duitsland teen die Jode moet beskerm.” Om ‘Duitsland te beskerm’, het Hoess toesig gehou oor die uitwissing van sowat 2 000 000 mense, waarvan die meeste Jode was.

Ongelukkig het gruweldade nie in die dekades daarna opgehou nie. In 1994 het stamhaat byvoorbeeld in Oos-Afrika tussen die Tutsi’s en die Hutu’s opgevlam, wat ten minste ’n halfmiljoen lewens geëis het. “Daar was geen skuilplekke nie”, het die tydskrif Time berig. “Bloed het in kerkgange gevloei waar talle skuiling gesoek het. . . . Die gevegte was man teen man, intiem en onbeskryflik, ’n soort bloeddorstigheid wat dié wat dit ontvlug het, verbysterd en stom gelaat het.” Selfs kinders is nie die gruwelike geweld gespaar nie. “Rwanda is ’n klein plekkie”, het een burger gesê. “Maar ons het al die haat in die wêreld.”

Konflikte tydens die verbrokkeling van die voormalige Joego-Slawië het tot die dood van meer as 200 000 mense gelei. Bure wat jare lank in vrede saamgeleef het, het mekaar doodgemaak. Duisende vroue is verkrag, en miljoene mense is met geweld uit hulle huise gesit onder die wreedaardige beleid van etniese suiwering.

Hoewel vooroordeel in die meeste gevalle nie tot moord lei nie, verdeel dit sonder uitsondering mense en wakker dit altyd gegriefdheid aan. ’n Onlangse UNESCO-verslag sê dat rassisme en rassediskriminasie ten spyte van globalisasie “in die meeste wêrelddele blykbaar toeneem”.

Kan enigiets gedoen word om vooroordeel uit die weg te ruim? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons vasstel hoe vooroordeel in die verstand en hart posvat.

[Venster op bladsy 5]

Die kenmerke van vooroordeel

In sy boek The Nature of Prejudice meld Gordon W. Allport vyf soorte gedrag wat uit vooroordeel spruit. Een of meer hiervan kan gewoonlik by bevooroordeelde mense waargeneem word.

1. Negatiewe aanmerkings. Iemand praat neerhalend oor die groep waarvan hy nie hou nie.

2. Vermyding. Hy vermy enigiemand wat tot hierdie groep behoort.

3. Diskriminasie. Hy sluit mense van dié groep uit wanneer dit kom by sekere soorte werk, verblyf of maatskaplike voorregte.

4. Fisiese aanvalle. Hy neem deel aan geweld, wat bedoel is om die mense wat hy haat, te intimideer.

5. Uitwissing. Hy neem deel aan lynchteregstellings, slagtings of uitwissingsprogramme.

[Prent op bladsy 4]

Benaco-vlugtelingkamp, Tanzanië, 11 Mei 1994

’n Vrou rus by haar waterhouers. Meer as 300 000 vlugtelinge, meestal Rwandese Hutu’s, het na Tanzanië gegaan

[Erkenning]

Photo by Paula Bronstein/Liaison