Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geskiedenis in bloed geskryf

Geskiedenis in bloed geskryf

NET ’n paar jaar gelede het dit gelyk asof terrorisme beperk is tot ’n paar plekke, soos Noord-Ierland, die Baskiese provinsies in die noorde van Spanje en party gebiede in die Midde-Ooste. Nou—veral sedert 11 September 2001, toe die Tweelingtorings in New York vernietig is—het dit vinnig uitgebrei tot ’n wêreldwye verskynsel en kop uitgesteek in paradysagtige Bali; Madrid, Spanje; Londen, Engeland; Sri Lanka; Thailand en selfs Nepal. Tog is terrorisme nie ’n nuwe verwikkeling nie. Wat word bedoel met die woord “terrorisme”?

Terrorisme is al gedefinieer as “die onwettige gebruik van mag of geweld, of die bedreiging daarvan, deur ’n persoon of ’n georganiseerde groep teen mense of eiendom met die doel om gemeenskappe of regerings te intimideer of iets van hulle af te dwing, dikwels met ideologiese of politieke oogmerke” (The American Heritage Dictionary of the English Language). Die skryfster Jessica Stern sê egter: “Die student van terrorisme kom voor honderde definisies te staan . . . Maar slegs twee kenmerke van terrorisme is noodsaaklik om dit van ander vorme van geweld te onderskei.” Wat is dit? “Eerstens, terrorisme word gemik op gewone burgers. . . . Tweedens, terroriste gebruik geweld vir dramatiese effek: die vrees wat dit in ’n teikengroep wek, is dikwels van groter belang as die fisiese gevolge van die aanval. Hierdie doelbewuste inboeseming van vrees onderskei terrorisme van misdade soos moord of aanranding.”

Geweld se lang geskiedenis

In die eerste eeu was daar in Judea ’n gewelddadige groep genaamd die Selote, wat hulle vir Joodse onafhanklikheid van Rome beywer het. Party van hulle vurigste ondersteuners het bekend geword as Sikariërs, of dolkstekers, ’n naam wat afgelei is van die kort swaarde wat hulle onder hulle klere weggesteek het. Die Sikariërs het tussen Jerusalem se feesgangers beweeg en hulle vyande óf keelaf gesny óf in die rug gesteek. *

In 66 G.J. het ’n groep Selote  Masada, ’n vesting naby die Dooie See, ingeneem. Hulle het die Romeinse garnisoen vermoor en die bergtopvesting hulle operasiebasis gemaak. Hulle het jare lank van daar af aanvalle uitgevoer en die keiserlike magte geteister. In 73 G.J. is Masada deur die Romeinse Tiende Legioen onder leiding van goewerneur Flavius Silva herower, maar hulle het nie die Selote onderwerp nie. ’n Eietydse geskiedkundige  beweer dat 960 van hulle—almal behalwe twee vroue en vyf kinders—selfmoord gepleeg het eerder as om aan Rome oor te gee.

Party mense beskou die opstand van die Selote as die begin van terrorisme soos ons dit vandag ken. Hetsy dit die geval is of nie, terrorisme het sedertdien duidelik sy merk op die geskiedenis gelaat.

Terrorisme in die Christendom

Vanaf 1095 en nog twee eeue daarna het leërs van kruisvaarders oor en weer tussen Europa en die Midde-Ooste beweeg. Hulle is teëgestaan deur Moslemmagte van Asië en Noord-Afrika. Die geskil was beheer oor Jerusalem, en elke kant het die oorhand probeer kry. In hulle talle gevegte het daardie “heilige krygers” mekaar wreed doodgemaak. Hulle het ook hulle swaarde en strydbyle teen onskuldige omstanders gebruik. Willem van Tirus, ’n 12de-eeuse geestelike, het beskryf hoe die kruisvaarders Jerusalem in die jaar 1099 binnegeval het:

“Hulle het saam deur die strate beweeg met hulle swaarde en spiese in die hand. Almal wat hulle teëgekom het, het hulle doodgemaak, mans, vroue en kinders, sonder om enigiemand te spaar. . . . Hulle het soveel mense in die strate om die lewe gebring dat daar hope lyke gelê het, en ’n mens kon beswaarlik loop sonder om op ’n lyk te trap. . . . Soveel bloed is vergiet dat die kanale en geute vol bloed was, en al die strate in die dorp was vol dooies.” *

In latere eeue het terroriste plofstowwe en vuurwapens begin gebruik, met grusame, dodelike gevolge.

Miljoene sterftes

Geskiedkundiges beskou 28 Junie 1914 as ’n keerpunt in die Europese geskiedenis. ’n Jong man, wat deur party as ’n held beskou is, het die Oostenrykse kroonprins, aartshertog Frans Ferdinand, geskiet. Daardie gebeurtenis het die mensdom in die Eerste Wêreldoorlog gedompel. Twintigmiljoen mense het gesterf voordat die Groot Oorlog tot ’n einde gekom het.

Op 28 junie 1914 is die wêreld in ’n oorlog gedompel

Die Eerste Wêreldoorlog is gevolg deur die Tweede Wêreldoorlog, met sy konsentrasiekampe, die slagting van burgerlikes in bomaanvalle en die vergeldingsdade teenoor onskuldiges. Ná die oorlog het moorde voortgeduur. Meer as ’n miljoen mense het in die 1970’s omgekom op die moordvelde van Kambodja. En die mense van Rwanda sukkel nog steeds om oor die skok te kom van die massamoord in die 1990’s op meer as 800 000 mense.

Vanaf 1914 tot vandag toe het die mensdom in talle lande weens terroristebedrywigheid gely. Tog tree party vandag op asof die geskiedenis die moderne mens niks kan leer nie. Op ’n gereelde grondslag word honderde doodgemaak, duisende vermink en miljoene die reg op gemoedsrus en veiligheid ontneem as gevolg van terreuraanvalle. Bomme ontplof in markte, dorpies word afgebrand, vroue word verkrag, kinders word gevange geneem, mense sterf. Ten spyte van wette en wêreldwye veroordeling van hierdie sadistiese dade is daar geen einde daaraan nie. Bestaan daar enige hoop dat terrorisme tot ’n einde sal kom?

^ par. 5 Soos in Handelinge 21:38 opgeteken is, het ’n Romeinse militêre bevelvoerder die apostel Paulus valslik daarvan beskuldig dat hy die leier van 4 000 “dolkstekers” is.

^ par. 10 Jesus het sy dissipels geleer om ‘hulle vyande lief te hê’, nie om hulle te haat en dood te maak nie.—Matteus 5:43-45.