Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrede op aarde—Uiteindelik!

Vrede op aarde—Uiteindelik!

PARTY meen dat hulle slegs deur middel van geweld politieke vryheid en geestelike suiwerheid kan verkry—dat slegs vernietigende krag ontslae sal raak van ongewenste heersers. Party regerings gebruik ook terreur om orde te handhaaf en die bevolking onder beheer te hou. Maar as dit waar is dat terrorisme ’n doeltreffende manier om te regeer en maatskaplike hervorming teweeg te bring, behoort dit vrede, welvaart en stabiliteit tot gevolg te hê. Ná ’n ruk behoort geweld en vrees af te neem. Het dit gebeur?

In werklikheid breek terrorisme respek vir lewe af en lei dit tot bloedvergieting en wreedheid. Weens hulle pynlike ervaring neem slagoffers dikwels wraak, wat tot verdere onderdrukking en, op sy beurt, weerwraak lei.

Geweld los nie ons probleme op nie

Die mens probeer al duisende jare lank om self sy politieke, godsdiens- en sosiale probleme op te los. Maar al hierdie pogings het misluk. Die Bybel sê tereg: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Jesus het gesê: “Wysheid staan of val deur die resultate wat dit oplewer” (Matteus 11:19, The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips). By uitbreiding impliseer hierdie Bybelbeginsels dat terrorisme ’n valse hoop is. Die vrugte wat terrorisme voortbring, is nie vryheid en geluk nie, maar eerder die dood, ellende en verwoesting. Hierdie slegte vrugte het die 20ste eeu gekenmerk en is besig om die 21ste eeu te oorweldig. Baie sou sê dat terrorisme een van die probleme is, nie die oplossing nie.

“Elke dag hoop ek dat nie een van my familie of vriende sal sterf nie . . . Miskien het ons ’n wonderwerk nodig.” Hierdie woorde is geskryf deur ’n jong meisie wie se land deur terreurgeweld verwoes is. Haar woorde vestig die aandag op ’n gevolgtrekking wat talle mense al gemaak het: Die oplossing vir die mens se probleme is nie binne die vermoë van mense nie. Slegs die mens se Skepper kan die aarde se huidige probleme, insluitende terrorisme, oplos. Maar waarom moet ons ons vertroue in God stel?

Waarom God ons vertroue waardig is

Een rede is dat Jehovah, as die Skepper, ons die lewe gegee het en wil hê dat ons vrede en gemoedsrus moet geniet. God se profeet Jesaja is beweeg om te skryf: “Nou, o Jehovah, u is ons Vader. Ons is die klei, en u is ons Pottebakker; en ons is almal die werk van u hand” (Jesaja 64:8). Jehovah is die Vader van die mensdom, en mense van alle nasies is vir hom kosbaar. Die ongeregtigheid en haat wat tot terrorisme lei, is nie sy skuld nie. Die wyse koning Salomo het eenkeer gesê: “Die ware God [het] die mensdom regskape gemaak . . . , maar hulle het baie planne bedink” (Prediker 7:29). Die grondoorsake van terrorisme is die goddeloosheid van mense sowel as die invloed van demone, nie onbevoegdheid aan die kant van God nie.—Efesiërs 6:11, 12.

Nog ’n rede waarom ons ons vertroue in Jehovah kan stel, is omdat hy die oorsaak van die mensdom se probleme beter as enigiemand anders verstaan en weet hoe om dit op te los, aangesien hy mense geskep het. Die Bybel meld hierdie waarheid in Spreuke 3:19: “Jehovah het die aarde deur wysheid gegrondves. Hy het die hemele deur onderskeidingsvermoë stewig gevestig.” ’n Man van die ou tyd het met volle vertroue  in God geskryf: “Waarvandaan sal my hulp kom? My hulp is van Jehovah, die Maker van hemel en aarde.”—Psalm 121:1, 2.

Daar is ’n derde rede waarom ons ons vertroue in God moet stel: Hy het die mag om ’n einde te maak aan gewelddadige bloedvergieting. In Noag se dag ‘het die aarde vol geweld geraak’ (Genesis 6:11). God se oordeel het skielik gekom en niemand kon dit vryspring nie: “[God het] hom nie daarvan weerhou om ’n eertydse wêreld te straf nie, . . . toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het.”—2 Petrus 2:5.

Die Bybel meld ’n les wat ons uit die Vloed van Noag se dag moet leer: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om uitgeroei te word” (2 Petrus 2:9). God kan onderskei tussen diegene wat opreg smag na ’n beter lewe en diegene wat die lewe vir ander moeilik maak. Hy het laasgenoemdes bewaar vir die “vernietiging van die goddelose mense”. Maar vir diegene wat vrede wil hê, berei hy ’n nuwe aarde voor waarin regverdigheid sal woon.—2 Petrus 3:7, 13.

Blywende vrede op aarde!

Bybelskrywers het dikwels die woord “aarde” gebruik met verwysing na die mensdom. Genesis 11:1 sê byvoorbeeld dat “die hele aarde”, al die mense wat destyds gelewe het, dieselfde taal gepraat het. Die apostel Petrus het daardie betekenis van die woord in gedagte gehad toe hy van “’n nuwe aarde” geskryf het. Jehovah God sal die mensegemeenskap so hernieu dat geweld en haat deur regverdigheid en geregtigheid vervang sal word as permanente “inwoners” van die land. In ’n profesie wat in Miga 4:3 opgeteken is, sê die Bybel vir ons: “Hy sal beslis oordeel tussen baie volke en sake regstel met betrekking tot magtige nasies wat ver is. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.”

Hoe sal mense lewe wanneer daardie profesie vervul is? Miga 4:4 sê: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal  niemand wees wat hulle laat bewe nie.” In daardie aardse Paradys sal niemand in vrees lewe vir die volgende terreuraanval nie. Kan jy daardie belofte vertrou? Ja, “want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek”.—Miga 4:4.

Terwyl terroriste se dreigemente toeneem en nasies bewe uit vrees vir geweld, is die oplossing vir liefhebbers van vrede dus om op Jehovah te vertrou. Daar is nie ’n probleem wat hy nie kan oplos nie. Hy sal onreg, lyding en selfs die dood verwyder. Die Bybel se: “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jesaja 25:8). Die kosbare lande van baie volke, wat vandag gevul is met pyn en vrees as gevolg van terrorisme, sal binnekort oorvloedige vrede geniet. Dít is die vrede wat die mensdom so dringend nodig het en wat belowe word deur die God “wat nie kan lieg nie”.—Titus 1:2; Hebreërs 6:17, 18.