Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Depressie—Hoe om dit te behandel

Depressie—Hoe om dit te behandel

“EK EN my man het mediese praktisyns geraadpleeg, veranderinge in ons lewenswyse aangebring en hard probeer om ’n roetine uit te werk wat ek kan hanteer”, sê Ruth, wat al jare lank aan depressie ly. “Dit lyk of ons medikasie gekry het wat werk, en ek voel beter. Maar gedurende die tyd toe dit gelyk het of niks wil werk nie, het die lojale liefde van my man en vriende my gehelp om nie tou op te gooi nie.”

Soos Ruth se ondervinding toon, het pasiënte wat aan kliniese depressie ly, al die ondersteuning nodig wat hulle kan kry, insluitende watter mediese benadering ook al raadsaam sal wees. Dit kan gevaarlik wees om depressie te ignoreer omdat dit in sommige gevalle lewensgevaarlik kan wees as dit nie behandel word nie. Ongeveer tweeduisend jaar gelede het Jesus Christus erken dat diegene met mediese ervaring die nodige hulp kan voorsien, toe hy gesê het dat ‘dié wat siek is, ’n geneesheer nodig het’ (Markus 2:17). Die feit is dat dokters heelwat kan doen om die lyding van baie depressielyers te verlig. *

’n Paar nuttige opsies

Depressie kan op verskeie maniere behandel word, afhangende van die simptome en hoe ernstig die siekte is. (Sien die venster  “Watter soort depressie?”) Baie mense kan deur hulle huisdokter gehelp word, maar party het meer gespesialiseerde behandeling nodig. Die dokter kan ’n antidepressant  voorskryf of ’n ander vorm van behandeling aanbeveel. Party het goeie resultate verkry deur kruiemedisyne te gebruik, aanpassings in hulle dieet te maak of ’n beheerde oefenprogram te volg.

Algemene probleme

1. Welmenende vriende met geen of min mediese opleiding probeer dalk vir jou sê watter behandeling jy moet aanvaar of verwerp. Hulle het miskien ook sterk menings oor wat jy moet gebruik, hetsy kruiemedisyne, voorgeskrewe medisyne of geen medisyne nie.

Dink hieroor: Maak seker dat enige raad wat jy aanvaar, uit ’n betroubare bron kom. Op die ou end is dit jy wat ’n ingeligte besluit moet neem.

2. Ontmoediging kan veroorsaak dat pasiënte die behandeling wat hulle gekies het, staak omdat dit lyk asof hulle toestand nie verbeter nie of weens onaangename newe-effekte.

Dink hieroor: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand” (Spreuke 15:22). Daar is ’n groter kans dat ’n mediese behandelingsprogram suksesvol sal wees as daar goeie kommunikasie tussen die dokter en die pasiënt is. Praat openlik met jou dokter oor die dinge wat jou bekommer, of beskryf jou simptome aan hom en vra of jy die behandeling moet aanpas of eenvoudig daarmee moet volhou voordat jy daarby sal begin baat vind.

3. Oorgerustheid kan maak dat pasiënte na ’n paar weke skielik hulle medikasie staak omdat hulle beter voel. Hulle vergeet dalk hoe  ernstig hulle simptome was voordat hulle die medikasie begin gebruik het.

Dink hieroor: Dit kan ernstige en selfs lewensgevaarlike gevolge hê om mediese behandeling skielik te staak sonder om ’n dokter te raadpleeg.

Hoewel die Bybel nie ’n mediese handleiding is nie, is die Outeur daarvan, Jehovah God, ons Skepper. Die volgende artikel sal die vertroosting en leiding ondersoek wat God se Woord aan depressielyers sowel as hulle versorgers voorsien.

^ par. 3 Ontwaak! beveel geen spesifieke behandeling aan nie. Elke individu moet sy opsies noukeurig opweeg voordat hy ’n persoonlike besluit neem.