Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutel 4—Beskerm jou gesondheid

Sleutel 4—Beskerm jou gesondheid

“Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). As jy eenvoudige stappe volg om jou gesondheid te beskerm, kan dit jou help om baie siektes en ellende, sowel as ’n verkwisting van tyd en geld, te vermy.

Hou jouself skoon. “Die belangrikste ding wat jy kan doen om te help keer dat infeksie versprei en om gesond te bly, is om jou hande te was”, berig die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming. Na bewering word tot 80 persent van infeksies deur vuil hande oorgedra. Was jou hande dus dikwels regdeur die dag. Doen dit veral voordat jy eet, kos voorberei of selfs ’n wond behandel of daaraan raak, en doen dit nadat jy aan ’n dier gevat het, die toilet gebruik het of ’n baba se doek omgeruil het.

Dit is doeltreffender om jou hande met seep en water te was as om handreinigers met ’n alkoholbasis te gebruik. Kinders bly gesonder as hulle ouers hulle leer om hulle hande te was en hulle hande van hulle mond en oë af weg te hou. As jy elke dag bad en jou klere en bedlinne vars en skoon hou, sal dit ook tot beter gesondheid bydra.

Vermy aansteeklike siektes. Vermy noue fisiese kontak met persone wat verkoue of griep het en moenie hulle eetgerei deel nie. Hulle spoeg en neusafskeidings kan die siekte aan jou oordra. Siektes wat deur bloed oorgedra word, soos hepatitis B en C en MIV/vigs, word hoofsaaklik deur seksuele kontak, binneaarse dwelmgebruik en bloedoortappings oorgedra. Inenting kan help om party infeksies te voorkom, maar ’n verstandige persoon sal nog steeds die nodige voorsorgmaatreëls tref wanneer iemand ’n aansteeklike siekte het. Beskerm jou teen insekbyte. Moenie sonder beskerming buite sit of slaap wanneer daar muskiete of ander siektedraende insekte is nie. Gebruik muskietnette, veral vir kinders, en gebruik insektemiddels. *

Hou jou huis skoon. Doen alles in jou vermoë om jou huis binne en buite netjies en skoon te hou. Doen iets omtrent plekke waar water kan opdam en muskiete kan uitbroei. Rommel, vuilgoed en onbedekte kos lok insekte en ander peste, wat almal mikrobes kan aandra en siektes kan veroorsaak. As daar nie ’n toilet is nie, moet jy eerder ’n puttoilet grawe as om jou behoefte in die veld te doen. Bedek die toilet om vlieë uit te hou, wat ooginfeksies en ander siektes kan oordra.

Vermy beserings. Gehoorsaam veiligheidswette terwyl jy werk, ’n fiets of motorfiets ry of ’n motor bestuur. Maak seker dat jou voertuig padwaardig is. Gebruik gepaste veiligheidstoerusting en -klere, soos ’n veiligheidsbril, hardehoed en beskermende skoene, sowel as veiligheidsgordels en gehoorbeskerming. Vermy oormatige blootstelling aan die son, wat kanker en voortydige veroudering van die vel veroorsaak. As jy rook, moet jy ophou. As jy dit nou opgee, sal dit die risiko van hartsiekte, longkanker en beroerte aansienlik verlaag. *

^ par. 5 Sien die voorbladreeks “Wanneer insekte siektes versprei” in die Ontwaak! van 22 Mei 2003.

^ par. 7 Sien die voorbladreeks “Hoe om rook op te gee” in die Ontwaak! van Mei 2010.