Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die oordeelsdag is dalk nie wat jy dink nie

Die oordeelsdag is dalk nie wat jy dink nie

DIE voorgaande oordeelsdagscenario’s is nie net uiters pessimisties nie, maar het ook drie dinge in gemeen. Eerstens, dit is gegrond op menslike bespiegelings, en mense se voorspellings oor die toekoms was tot dusver allesbehalwe betroubaar. Tweedens, as mense oorleef, sal dit bloot toevallig wees. Derdens, ná so ’n oordeelsdag sal oorlewendes ’n stryd om oorlewing voer.

In teenstelling hiermee skilder die Bybel ’n redeliker prentjie van wat die toekoms inhou. Die Bybel sê dat daar beslis ’n groot verandering voorlê. Maar almal wat God se wil doen, het die versekering dat hulle sal oorleef. Wat meer is, die Bybel voorspel nie dat die aarde tot as verbrand sal word of in ’n ysblok sal verander nie. Dit sal in ’n aardwye paradys omskep word.

Baie mense vind dit moeilik om sulke Bybelprofesieë te aanvaar. Skeptici beskou die Bybel se leringe oor ’n groot verdrukking, Armageddon, ’n millennium en die Paradys as fantasieë. Hierdie onderwerpe is al breedvoerig deur teoloë bespreek, beredeneer en uitgelê. Hulle teorieë stem glad nie ooreen nie. Aangaande die tyd van die einde sê die skrywer Bruce A. Robinson: “Daar bestaan waarskynlik ’n groter aantal duistere teologiese geskrifte oor hierdie onderwerp as oor enige ander opvatting in die Christendom.” Die gevolg? Verwarring.

Wat die Bybel hieroor sê, is egter nie duister nie. Die Bybel is God se boodskap, en hy wil nie hê dat ons onseker moet wees oor wat die toekoms inhou nie. Kyk na ’n paar vrae wat dikwels gevra word en wat die Bybel self daaroor sê. As jy meer hieroor wil weet, kan jy die boek Wat leer die Bybel werklik? aanvra, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.

 Sal die aarde en die mensdom vernietig word?

“Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

Sal enige mense hulle lewe verloor?

“Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.

Het God in die verlede teen goddelose mense opgetree?

God het “hom nie daarvan weerhou . . . om ’n eertydse wêreld te straf nie, maar [het] Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar . . . toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het; en hy [het] die stede Sodom en Gomorra veroordeel . . . deur hulle tot as te verbrand, waardeur hy vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge gegee het”.—2 Petrus 2:5, 6.

Kan ons vasstel op watter datum God se oordeel sal kom?

“Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. Want net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:36-39.

Is daar enige aanduiding dat die einde binnekort sal kom?

“In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”—2 Timoteus 3:1-5.

Wat hou die toekoms vir mense op die aarde in?

God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

God “sal elke traan van hulle oë afvee”

Hoewel die Skrif ons net ’n kykie in die toekoms gee, verseker dit ons dat die mensdom nie uitgeroei sal word nie. Die toekoms sal wonderliker wees as wat ons ons kan voorstel. Jy kan hiervan seker wees en die volle vertroue hê dat Jehovah God kan doen wat hy belowe het.