Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel—’n Boek van akkurate Bybelprofesie—Deel 8

“Laat u koninkryk kom”

Die Bybel—’n Boek van akkurate Bybelprofesie—Deel 8

Dit is die laaste artikel in ’n reeks van agt dele waarin “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel bespreek—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die doel van hierdie artikels is om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat hierdie voorspellings deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.

VERKLAARDE Christene bid al sowat tweeduisend jaar lank dat God se Koninkryk moet kom. Hulle doen dit na aanleiding van Jesus se woorde. Hy het sy dissipels leer bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.

Wat is die Koninkryk waarvoor soveel mense bid? Dit is God se hemelse regering, en dit sal alle ander regerings vervang. As die aangestelde Koning van hierdie Koninkryk voer Jesus Christus die wil van God in die hemel en op die aarde uit (Daniël 2:44; 7:13, 14). God sal hierdie modelgebed op sy vasgestelde tyd verhoor deur ’n einde te maak aan goddeloosheid en lyding en deur redding te voorsien aan ’n “groot menigte” lojale aanbidders, waarvan die getal nie bekend is nie (Openbaring 7:9, 10, 13-17). Dan sal “die regverdiges . . . die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon”.—Psalm 37:29.

Is dit moontlik om uit te vind presies watter toestande ons onder Christus se heerskappy kan verwag? Beslis! Toe Jesus op die aarde was, het hy getoon dat hy die begeerte sowel as die vermoë het om die mensdom se probleme op te los. Kom ons ondersoek vier Bybelprofesieë en bespreek hoe Jesus ’n voorskou voorsien het van wat hy aardwyd sal doen as Koning van God se hemelse Koninkryk.

Profesie 1:

“Jehovah . . . laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”—Psalm 46:8, 9.

Vervulling: Jesus Christus, die “Vredevors”, sal blywende vrede op ons planeet teweegbring. Deur middel van ’n vreedsame opvoedingsprogram en aardwye ontwapening, sal God se Koninkryk die hele mensdom as ’n waarlik internasionale broederskap verenig.—Jesaja 2:2-4; 9:6, 7; 11:9.

Wat die geskiedenis toon:

Jesus het sy volgelinge geleer om in vrede met mekaar te lewe, nie om wapens op te neem nie. Toe een van sy dissipels Hom met ’n wapen probeer verdedig het, het Jesus vir hom gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:51, 52). Jesus het gesê dat ware Christene gekenmerk sou word deur die liefde wat hulle aan mekaar betoon.—Johannes 13:34, 35.

Profesie 2:

“Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.

Vervulling: God se Koninkryk sal ondervoeding, voedseltekorte en verhongering uit die weg ruim. Almal sal ’n oorvloed goeie voedsel hê.

Wat die geskiedenis toon:

Jesus se opregte medelye met honger mense was duidelik, en sy wonderdadige vermoë om groot skares van voedsel te voorsien, was ontsagwekkend. ’n Ooggetuie het vertel: “[Jesus het] die skare beveel om op die gras te gaan sit, en hy het die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en ’n seën gevra, en nadat hy die brode gebreek het, het hy dit aan die dissipels uitgedeel, en die dissipels weer aan die skare. Toe het almal geëet en versadig geword, en hulle het die oorblywende brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol. Tog was dié wat geëet het omtrent vyfduisend manne, buiten die vroue en jong kinders.”—Matteus 14:14, 19-21.

Profesie 3:

“Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). “Die oë van die blindes [sal] geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.”—Jesaja 35:5, 6.

Vervulling: God se Koninkryk sal ’n einde maak aan elke soort siekte en gebrek. Die blindes sal sien, en die dowes sal hoor en praat. Niemand sal ooit weer medisyne, hospitale of dokters nodig hê nie.

Wat die geskiedenis toon:

Toe Jesus mense van God se Koninkryk geleer het, het hy gewilliglik al hulle siektes en gebreke genees. Sodoende het Jesus op ’n klein skaal getoon wat hy aardwyd as Koning van God se hemelse Koninkryk sal doen.—Lukas 7:22; 9:11.

Profesie 4:

God “sal die dood vir ewig verswelg”.—Jesaja 25:8.

Vervulling: Gedurende Christus se bewind as Koning van God se Koninkryk sal “almal wat in die gedenkgrafte is”, opgewek word tot lewe op ’n paradysaarde (Johannes 5:28, 29). Jesus sal die dood, ons mees meedoënlose vyand, tot niet maak en dit vir ons moontlik maak om vir ewig te lewe.—Psalm 37:29.

Wat die geskiedenis toon:

By ten minste drie geleenthede het Jesus sy krag getoon deur ’n dooie persoon op te wek (Lukas 7:11-15; 8:41-55; Johannes 11:38-44). En nadat Jesus gesterf het, kon sowat 500 ooggetuies bevestig dat hy uit die dood opgewek is.—1 Korintiërs 15:3-8.

Hierdie reeks van agt artikels het talle Bybelprofesieë bespreek wat bewaarheid is. Al hierdie profesieë, en nog baie ander, toon dat die Bybel nie net die werk van slim mense is nie. Daar is eerder rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is. Dit ly geen twyfel nie dat “alles in die Skrif God se Woord is”.—2 Timoteus 3:16, Contemporary English Version.

Omdat die Bybel ’n boek van onfeilbare profesieë is, het jy alle rede om hierdie belofte te glo: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.