Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Moenie dat die bedgoggas byt nie!”

“Moenie dat die bedgoggas byt nie!”

TEEN die middel van die 20ste eeu het dit gelyk asof die mens die stryd teen bedgoggas, oftewel weeluise, wen. Party mense het slegs van hierdie insekte geweet weens die ou Engelse kinderrympie wat gesê het: “Moenie dat die bedgoggas byt nie.” In die 1970’s het baie lande egter besluit om die gebruik van DDT—’n vername wapen teen weeluise—te verbied omdat dit giftig is en ekologiese skade aanrig.

Met verloop van tyd het weeluise weerstand begin opbou teen ander chemiese middels. Mense het ook meer begin reis en weeluise onwetend met hulle saamgedra. Wat was die gevolg? “Gedurende die afgelope 12 jaar”, sê ’n 2012-verslag oor die beheer van weeluise, “het weeluise weer hulle verskyning gemaak in die VSA, Kanada, die Midde-Ooste, etlike Europese lande, Australië en dele van Afrika.”

In Moskou, Rusland, het die aantal klagtes oor weeluise in ’n onlangse jaar vertiendubbel. En aan die ander kant van die aardbol, in Australië, het weeluisbesmettings sedert 1999 met sowat 5 000 persent toegeneem!

Sommige mense dra weeluise onwetend met hulle saam van winkels, teaters of hotelle af. “Jy gaan ’n probleem met weeluise hê”, sê ’n hotelbestuurder in die VSA. “Deesdae is dit deel van die bedryf.” Waarom is dit so moeilik om van weeluise ontslae te raak? Watter voorsorgmaatreëls kan jy tref? Watter praktiese stappe kan jy doen om van weeluise ontslae te raak en te voorkom dat hulle terugkeer as jy hulle wel in jou huis vind?

Geharde goggas

’n Volgroeide weeluis is net sowat ’n halwe sentimeter lank

Omdat hulle so groot soos ’n appelpitjie is en ’n plat lyf het, kan weeluise op byna enige plek wegkruip. Hulle sal hulle moontlik tuismaak in jou matras, jou meubels, ’n elektriese kragpunt of selfs jou telefoon. Weeluise word gewoonlik binne drie tot ses meter van beddens en sitplekke af gevind. Waarom? Omdat hulle naby wil wees aan jou—hulle voedselbron. *

Weeluise byt hulle slagoffers gewoonlik terwyl hulle slaap. Maar die meeste mense voel nie die byt nie omdat die weeluise ’n verdowingsmiddel inspuit sodat hulle tot tien minute lank sonder onderbreking bloed kan suig. En hoewel weeluise moontlik elke week hulle honger na bloed stil, kan hulle glo maande lank sonder ’n maaltyd oorleef.

In teenstelling met muskiete en party ander insekte dra weeluise blykbaar nie besmetlike siektes oor nie. Nogtans kan hulle byte jeukerig word en swel, en baie mense ervaar emosionele lyding. Slagoffers ondervind soms slapeloosheid, verleentheid en selfs “skynbyte” lank nadat die weeluise weg is. ’n Verslag van Sierra Leone noem weeluise “’n bron van groot irritasie en slapelose nagte” en meld dat daar ’n “sosiale stigma aan weeluise kleef”.

Keer dat weeluise hulle tuismaak

Ondersoek jou bagasie

Enigiemand kan deur weeluise geteister word. Dit is makliker om van hulle ontslae te raak as jy hulle vroegtydig opspoor. Leer dus om te let op tekens van weeluise in jou huis en wanneer jy reis. Ondersoek jou meubels, vloerlyste en bagasie vir eiertjies wat so groot soos papawersaadjies is en vir bloedvlekke. Gebruik ’n flits sodat jy dit makliker sal raaksien.

Verseël barste en krake

Gee weeluise minder plekke om weg te kruip. Verseël krake en barste in mure en deurkosyne. Hoewel ’n vuil huis nie die oorsaak is van weeluise nie, sal dit makliker wees om hulle op te spoor en te beheer as jy gereeld stofsuig en die huis netjies hou. Jy kan die moontlikheid verminder dat jy weeluise van ’n hotelkamer af met jou sal saamdra as jy jou reistas nie op die vloer of bed sit nie.

As weeluise jou huis binnedring

Stofsuig gereeld

As jy weeluise in jou huis of hotelkamer vind, sal jy dalk bekommerd en selfs verleë voel. Terwyl Dave en sy vrou met vakansie was, is hulle deur weeluise gebyt. “Dit was ’n groot verleentheid”, sê Dave. “Wat sou ons vir ons vriende en familie sê wanneer ons by die huis kom? Sou hulle enige velirritasie of jeukerigheid wat hulle ondervind, toeskryf aan ’n besoek aan ons huis?” Hoewel hierdie reaksies normaal is, moet jy nie toelaat dat verleentheid jou keer om hulp te soek nie. Die stad New York se Departement van Gesondheid en Geestesgesondheid gee hierdie versekering: “Dit is moeilik, maar nie onmoontlik om van weeluise ontslae te raak nie.”

Maak seker dat daar nêrens weeluise skuil nie, en doen stappe om te keer dat hulle hulle in jou huis tuismaak

Moet egter nie die moeilike taak om weeluise uit te roei, onderskat nie. As jy weeluise in jou huis vind, kan ’n gelisensieerde plaagbestryder jou moontlik die nodige hulp gee. Hoewel die chemiese middels wat vroeër genoem is, nie meer gebruik word nie, kombineer plaagbestryders deesdae ’n aantal ander doeltreffende metodes om die insekte te bestry. Die insektekundige Dini M. Miller sê ook: “Die bestryding van weeluise verg net soveel samewerking van die inwoners as van die bestuur [van die gebou] en die plaagbestrydingsmaatskappy.” Deur die tegnikus se instruksies te volg en redelike voorsorgmaatreëls te tref, kan jy jou deel doen om te keer dat “die bedgoggas byt”!

^ par. 7 Volgens insektekundiges teer weeluise op die bloed van mense en ander soogdiere, insluitende troeteldiere.