Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Hoe om jou tyd verstandig te gebruik

Hoe om jou tyd verstandig te gebruik

“As ek maar net meer tyd gehad het!” Hoe dikwels het jy dit al gesê? In sekere sin is almal gelyk wanneer dit by tyd kom, want invloedryke en welgestelde mense het nie meer daarvan as eenvoudige en arm mense nie. Wat meer is, nie die rykes of die armes kan tyd opgaar nie. Verlore tyd kan nooit teruggekry word nie. Dit is dus verstandig om goed gebruik te maak van die tyd wat ons het. Hoe kan ons dit doen? Kom ons bespreek vier wenke wat baie mense al gehelp het om hulle tyd verstandig te gebruik.

Wenk 1: Wees georganiseerd

Stel prioriteite. “[Maak seker] van die belangriker dinge”, sê die Bybel (Filippense 1:10). Maak ’n lys van dinge wat belangrik of dringend of albei is, terwyl jy in gedagte hou dat wat belangrik is—byvoorbeeld om kos vir aandete te koop—nie noodwendig dringend is nie. En onthou dat wat jy dink dringend is—soos om die begin van jou geliefkoosde TV-program te kyk—dalk nie belangrik is nie. *

Dink vooruit. “As ’n ysterwerktuig stomp geword het en ’n mens sy snykant nie geslyp het nie, dan sal hy sy lewenskragtigheid inspan”, sê Prediker 10:10, en dit voeg by: “So beteken dit voordeel as wysheid gebruik word om sukses te behaal.” Wat is die les? As jy jou ysterwerktuig slyp, dit wil sê vooruit beplan, kan jy jou tyd ten beste benut. Onbelangrike take, wat eintlik net ’n vermorsing van tyd en energie is, kan uitgestel of afgestel word. As jy vind dat jy tyd tot jou beskikking het omdat jou werk op datum is, kan jy gerus met werk begin wat jy eers later sou doen. Deur vooruit te dink, sal jy produktiewer wees, soos ’n verstandige werker wat sy ysterwerktuig slyp.

Vereenvoudig jou lewe. Leer om nee te sê vir dinge wat onbelangrik is of wat eintlik net ’n vermorsing van tyd is. Te veel bedrywighede en afsprake kan onnodige spanning veroorsaak en kan jou van jou vreugde beroof.

 Wenk 2: Vermy tyddiewe

Uitstellery en besluiteloosheid. “Hy wat die wind dophou, sal nie saad saai nie; en hy wat na die wolke kyk, sal nie oes nie” (Prediker 11:4). Wat is die les? Uitstellery beroof ’n mens van tyd en maak jou minder produktief. ’n Boer wat vir volmaakte toestande wag, sal dalk nooit saad saai of oes nie. Net so kan ons toelaat dat die onsekerhede van die lewe ons besluiteloos maak. Of ons meen miskien dat ons moet wag totdat ons al die betrokke inligting het voordat ons ’n besluit neem. ’n Mens moet natuurlik navorsing doen en goed nadink voordat jy belangrike besluite neem. “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe”, sê Spreuke 14:15. Maar die werklikheid is dat baie besluite met ’n mate van onsekerheid gepaardgaan.—Prediker 11:6.

Perfeksionisme. “Die wysheid van bo [of van God] is . . . redelik”, sê Jakobus 3:17. Hoë standaarde is natuurlik prysenswaardig! Maar soms is ons standaarde so hoog dat teleurstelling en selfs mislukking feitlik onvermydelik is. Iemand wat byvoorbeeld ’n ander taal leer, moet besef dat hy foute sal maak en dat dit deel is van die leerproses. Maar ’n perfeksionis sal waarskynlik sidder as hy dink aan die moontlikheid dat hy iets verkeerd sal sê—’n gesindheid wat sy vordering sal belemmer. Hoeveel beter is dit tog om beskeie te wees wat ons verwagtinge betref! “Wysheid is by die beskeidenes”, sê Spreuke 11:2. Mense wat beskeie en nederig is, neem hulleself nie te ernstig op nie en kan gewoonlik vir hulleself lag.

“Jy betaal nie werklik vir dinge met geld nie. Jy betaal daarvoor met tyd.”—What to Do Between Birth and Death

 Wenk 3: Wees gebalanseerd en realisties

Handhaaf ’n balans tussen werk en ontspanning. “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). Werkslawe ontneem hulle dikwels die vrug van hulle “dubbele hand vol harde werk”. Hulle het eenvoudig geen tyd of energie oor nie. Luiaards kies eerder “’n dubbele hand vol” rus en verkwis kosbare tyd. Die Bybel spoor ons aan om ’n gebalanseerde beskouing te hê: Werk hard en geniet die belonings. Om jou so te verbly, is ’n “gawe van God”.—Prediker 5:19.

Kry genoeg slaap. “In vrede sal ek gaan lê en ook slaap”, het ’n Bybelskrywer gesê (Psalm 4:8). Die meeste volwassenes het omtrent agt uur slaap per nag nodig om al die liggaamlike, emosionele en verstandelike voordele te verkry. Wat laasgenoemde betref, is slaap nie ’n vermorsing van tyd nie, want dit help ’n mens om beter te konsentreer en te onthou en verbeter sodoende jou leervermoë. Maar te min slaap belemmer ’n mens se leervermoë en dra by tot ongelukke, foute en geïrriteerdheid.

Stel realistiese doelwitte. “Wat die mens het, is beter as wat hy begeer” (Prediker 6:9, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Wat is die punt? ’n Verstandige persoon laat nie toe dat blote begeertes sy lewe beheer nie, veral nie begeertes wat dalk onrealisties is of glad nie bevredig kan word nie. Daarom word hy nie deur slim advertensies of maklik verkrygbare krediet om die bos gelei nie. Hy leer eerder om tevrede te wees met wat binne sy bereik is—met “wat [hy] het”.

 Wenk 4: Laat goeie waardes jou rig

Dink na oor jou waardes. Jou waardes stel jou in staat om te bepaal wat goed, belangrik en die moeite werd is. As jou lewe ’n pyl was, sou jou waardes daardie pyl rig. Goeie waardes help jou dus om die regte prioriteite in die lewe te stel en om jou tyd uur ná uur en dag ná dag ten beste te benut. Waar kan jy goeie waardes vind? Baie mense wend hulle tot die Bybel omdat hulle besef dat dit ’n bron van voortreflike wysheid is.—Spreuke 2:6, 7.

Maak liefde jou vernaamste waarde. Liefde “is ’n volmaakte band van eenheid”, sê Kolossense 3:14. Ons kan nie waarlik gelukkig wees en emosioneel veilig voel sonder liefde nie, veral nie in die gesin nie. Mense wat hierdie feit verontagsaam, deur miskien hulle loopbaan of die najaging van rykdom eerste te stel, sal in werklikheid ongelukkig wees. Ja, dit is met goeie rede dat die Bybel liefde as die voortreflikste waarde voorhou en dit honderde kere noem.—1 Korintiërs 13:1-3; 1 Johannes 4:8.

Sit tyd opsy om jou geestelike behoefte te bevredig. ’n Man met die naam Geoff het ’n liefdevolle vrou, twee gelukkige kinders, goeie vriende en ’n vervullende werk as ’n paramedikus gehad. Maar in sy werk het hy dikwels met lyding en die dood te doen gehad. “Is dit hoe die lewe veronderstel is om te wees?” het hy gevra. Toe het hy eendag Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, gelees en bevredigende antwoorde gevind.

Geoff het sy vrou en kinders vertel wat hy geleer het, en hulle het ook belangstelling getoon. Dit het die gesin ’n geestelike weg laat inslaan wat hulle lewe verryk het en hulle gehelp het om hulle tyd baie verstandiger te gebruik. Hulle studie van die Bybel het hulle ook die wonderlike hoop op die ewige lewe gegee in ’n wêreld waar die lewe sinvol sal wees en lyding tot die verlede sal behoort.—Openbaring 21:3, 4.

Geoff se ondervinding herinner ’n mens aan die woorde van Jesus Christus toe hy gesê het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Is jy bereid om ’n bietjie tyd opsy te sit om jou geestelike behoefte te bevredig? Jy kan daarvan seker wees dat dit jou die wysheid sal gee om nie net elke dag ten beste te benut nie, maar ook jou hele lewe.

^ par. 5 Sien “20 maniere om meer tyd te skep”, in die Ontwaak! van April 2010.