Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vlieënde tuiniers van die tropiese reënwoud

Vlieënde tuiniers van die tropiese reënwoud

SOOS enige tuinier weet, moet saad op die regte plek en op die regte tyd gesaai word as jy met sukses wil tuinmaak. Maar hoe vreemd dit ook al klink, van die doeltreffendste saaiwerk in die reënwoud word saans gedoen—en uit die lug. Die vlieënde tuiniers wat die saaiwerk doen, is vrugtevlermuise—waarvan party bekend staan as vlieënde honde. *

Die saad word versprei

Die meeste vrugtevlermuise vlieg in die aand rond om die woud te fynkam op soek na bome met smaaklike vrugte of blomme met baie nektar. Terwyl die vlermuise so rondvlieg, eet hulle vrugte en werp hulle onverteerde pulp en sade uit. Om hulle tuinwerk af te rond, bestuif hulle ook blomme terwyl hulle die heerlike nektar opsuig.

Aangesien vrugtevlermuise saans soms ver vlieg, kan hulle sade oor ’n groot gebied versprei. En omdat van die sade deur die vlermuise se spysverteringskanaal beweeg, voorsien hulle ook “kunsmis” wat die groei van sade bevorder. Dit is nie verbasend nie dat verskeie plante in die reënwoud afhanklik is van vlermuise om hulle blomme te bestuif of hulle sade te versprei.

Aangesien vrugtevlermuise ’n groot gebied deurkruis, is goeie navigasievermoë en uitstekende sig noodsaaklik. In swak lig kan hulle beter as mense sien. Hulle kan selfs party kleure onderskei. En hulle is glad nie onwillig om bedags sowel as snags te vlieg nie.

Gesinslewe

HET JY GEWEET? In teenstelling met baie ander vlermuise vind vrugtevlermuise nie hulle kos deur middel van eggo-opsporing nie, maar deur dit te sien en te ruik. Hulle groot oë kom hulle goed te pas tydens hulle nagtelike bedrywighede

Die Samoaanse vlieënde hond (Pteropus samoensis) het lewenslank dieselfde maat. Daar is al waargeneem dat die wyfie, soos in die geval van party ander soorte, goed vir haar kleintjie sorg deur hom ’n paar weke lank saam met haar te dra en hom te soog tot hy byna volwasse is. Daar is twee soorte vrugtevlermuise waarvan die wyfie dalk selfs van die dienste van ’n “vroedvrou” gebruik sal maak om haar tydens die geboorte te help.

Ongelukkig word baie vrugtevlermuise deur uitwissing bedreig, deels omdat hulle habitat vernietig word. Dit sal vir die eilande van die Stille Suidsee rampspoedig wees as die vrugtevlermuise heeltemal uitgewis word, aangesien party plantsoorte op hierdie eilande blykbaar slegs deur vlermuise bestuif word. Dit is duidelik dat die werk van hierdie vlieënde tuiniers nooit as vanselfsprekend aangeneem moet word nie.

^ par. 2 Vrugtevlermuise van die familie Pteropodidae kom voor in Afrika, Asië, Australië en op party van die eilande in die Stille Oseaan.