Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Beelde

Beelde

Miljoene opregte mense vereer beelde as deel van hulle aanbidding. Maar word hierdie gebruik in die Bybel goedgekeur? Behaag dit God?

Het getroue Jode in Bybeltye beelde vereer?

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of ’n afbeelding van enigiets maak wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie.”—Eksodus 20:4, 5.

Die verering van beelde word deurgaans veroordeel in die Hebreeuse Geskrifte, wat algemeen bekend is as die Ou Testament

’N ALGEMENE BEWERING

Volgens die New Catholic Encyclopedia het die Jode ’n oorvloed beelde gehad wat met hulle aanbidding verband gehou het, “en hierdie beelde is vereer”. * Dié ensiklopedie noem as voorbeelde die talle graverings van vrugte, blomme en diere wat die tempel in Jerusalem versier het.—1 Konings 6:18; 7:36.

WAT JY MOET WEET

In teenstelling met wat die New Catholic Encyclopedia beweer, het getroue Jode nie enige van die graverings of figure wat met die tempel verband gehou het, vereer nie. Om die waarheid te sê, ons lees nêrens in die Bybel van ’n getroue Israeliet wat ’n beeld in aanbidding gebruik het nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie,” het God deur die profeet Jesaja gesê, “en ook nie my lof aan gesnede beelde nie.”—Jesaja 42:8.

Het die vroeë Christene beelde in hulle aanbidding gebruik?

“Watter ooreenkoms het God se tempel met afgode? . . . Hou op om wat onrein is, aan te raak.” —2 Korintiërs 6:16, 17.

“Die blote gedagte om beelde in die kerke te plaas, sou vir die vroeë Christene afstootlik gewees het, en hulle sou dit as niks minder as afgodediens beskou het om hulle voor hierdie beelde neer te buig of voor hulle te bid nie.”—History of the Christian Church

’N ALGEMENE BEWERING

“Dit is nie redelik om die gebruik van beelde in vroeë Christelike aanbidding nou te bevraagteken nie”, sê die New Catholic Encyclopedia. “Die Christelike katakombes is ware galerye van vroeë Christelike kuns. . . . Selfs mitologiese figure versier die gewyde kamers van heilige aanbidding en begrawing.” *

WAT JY MOET WEET

Die oudste beelde wat in hierdie katakombes—ondergrondse grafkelders—gevind is, dateer uit die derde eeu. Dit is ongeveer 200 jaar Jesus se dood. Wat die New Catholic Encyclopedia “vroeë Christelike aanbidding” noem, is dus nie die vroegste Christelike aanbidding nie—die aanbidding wat deur die eerste-eeuse dissipels beoefen is en beskryf word in die Christelike Griekse Geskrifte, wat algemeen bekend is as die Nuwe Testament. Die feit dat daar sulke beelde in die katakombes was, toon bloot dat naamchristene teen die derde eeu die heidense gebruik om beelde te vereer, aangeneem het, waarskynlik om bekeerlinge te lok. *

WAT DIE BYBEL SÊ

“Vlug vir die afgodediens.”—1 Korintiërs 10:14.

Moet beelde bloot as ’n hulpmiddel in aanbidding gebruik word?

“Bewaar julle van afgode.”—1 Johannes 5:21.

Die verering van beelde is ’n godsdiensgebruik wat glad nie deur die Bybel gesteun word nie. Daarom vereer Jehovah se Getuies nie beelde nie, en hulle het ook geen godsdiensbeelde in hulle huise of in hulle plekke van aanbidding nie

’N ALGEMENE BEWERING

“Aangesien die aanbidding wat aan ’n beeld gegee word, die persoon wat deur die beeld voorgestel word, bereik en by hom eindig,” sê die New Catholic Encyclopedia, “kan dieselfde soort aanbidding wat die persoon toekom, gegee word aan die beeld wat die persoon voorstel.”

WAT JY MOET WEET

Toe Jesus sy volgelinge geleer het hoe om te bid, het hy nie gesê dat hulle beelde moet gebruik nie. Nie eers die gedagte om ’n beeld te gebruik om die ware God te aanbid, kan in die Christelike Griekse Geskrifte gevind word nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.”—Matteus 4:10.

^ par. 7 Die New Catholic Encyclopedia definieer verering as “’n godsdienstige daad, ’n daad van aanbidding”.

^ par. 13 In hierdie konteks verwys beelde na prente, ikone, standbeelde, simbole en enigiets anders wat vereer word.

^ par. 14 Die gebruik van beelde was algemeen in talle antieke kulture, soos dié van Egipte, Griekeland en Indië.