Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONS BESKOU DIE WÊRELD

Verhoudings in die kollig

Verhoudings in die kollig

Is die Bybel die eerste plek waar jy raad oor verhoudings sou probeer vind of is dit dalk die laaste? Kyk hoe die wysheid van hierdie boek uit die ou tyd met die nuutste navorsing vergelyk.

Indië

Volgens ’n opname wat in 2014 gedoen is, glo 61 persent van jongmense tussen 18 en 25 dat seks voor die huwelik “nie meer in Indië ’n groot kwessie is nie”. ’n Dokter in Moembaai het vir die Hindustan Times gesê dat “jongmense [volgens hom] nie noodwendig aan trou dink wanneer hulle ’n verhouding aanknoop nie. Of hulle een nag bymekaar is, in ’n informele verhouding is of saamlewe, daar hoef nie enige verbintenis te wees nie.”

IETS OM OOR TE DINK: Wie loop ’n groter gevaar om seksueel oordraagbare siektes op te doen en emosionele trauma te ervaar? Mense wat seks voor die huwelik het of getroude mense? —1 Korintiërs 6:18.

Denemarke

As ’n mens dikwels met familielede stry, verdubbel jy blykbaar jou risiko om gedurende die middeljare dood te gaan. Navorsers by die Universiteit van Kopenhagen het byna 10 000 middeljarige mense oor ’n tydperk van 11 jaar gemonitor en gevind dat dié wat dikwels met ’n familielid stry, ’n baie groter risiko loop om vroeg te sterf as dié wat selde met ander stry. Om bekommernisse en eise wat aan jou gestel word asook konflikte te hanteer, “kan beskou word as ’n belangrike strategie om vroeë sterftes te verminder”, sê een van die navorsers.

DIE BYBEL SÊ: “Iemand wat sy woorde inhou, besit kennis, en ’n man met onderskeidingsvermoë is kalm van gees.”—Spreuke 17:27.

Verenigde State

Volgens ’n onlangse studie van 564 pasgetroudes in Louisiana is dit waarskynliker dat “sikliese paartjies”—dié wat uitmaak en dan weer bymekaarkom terwyl hulle nog uitgaan—binne die eerste vyf jaar van hulle huwelik vir ’n proeftydperk uitmekaar sal gaan. Hulle is ook meer geneig om te stry en om minder tevrede te wees met hulle huwelik.

DIE BYBEL SÊ: “Wat God dan onder een juk [in die huwelik] saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:6.