Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die persoonlike naam van God in ou Hebreeuse letters wat oral in vroeë manuskripte van die Bybel verskyn

DIE BYBEL SE BESKOUING

God se naam

God se naam

Miljoene mense gebruik respekvolle titels wanneer hulle met God praat, soos Here, Ewige Vader, Allah of net God. Maar God het ’n persoonlike naam. Moet jy dit gebruik?

Wat is God se naam?

WAT PARTY MENSE SÊ

 

Baie mense wat sê dat hulle Christene is, glo dat God se naam Jesus is. Ander sê dat dit onnodig is om God se naam te gebruik, aangesien daar net een almagtige God is. Nog ander voel dat dit nie gepas is om God op sy naam te noem nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Die almagtige God se naam is nie Jesus nie, want Jesus is nie God die Almagtige nie. Om die waarheid te sê, Jesus het mede-aanbidders geleer om tot God te bid en te sê: “Vader, laat u naam geheilig word” (Lukas 11:2). Jesus het self tot God gebid: “Vader, verheerlik naam.”—Johannes 12:28.

In die Bybel sê God: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie” (Jesaja 42:8). “Jehovah” is die Afrikaanse vertaling van die vier Hebreeuse letters JHWH, wat God se naam verteenwoordig. Hierdie naam kom omtrent 7 000 keer in die Hebreeuse Geskrifte voor. * Dit word meer as enige titel, soos “God”, “Almagtige” of “Here” gebruik, en meer as enige ander naam, soos Abraham, Moses of Dawid.

Jehovah sê nêrens in die Bybel dat die respekvolle gebruik van sy naam verkeerd is nie. Maar die Skrif wys eerder dat God se knegte sy naam vryelik gebruik het. Die name wat hulle hulle kinders gegee het, het God se naam bevat. Soos byvoorbeeld Elia, wat “My God is Jehovah” beteken, en Sagaria, wat “Jehovah het onthou” beteken. Hulle het ook nie gehuiwer om God se naam in hulle daaglikse gesprekke te gebruik nie.—Rut 2:4.

God wil hê dat ons sy naam moet gebruik. Die Bybel spoor ons aan: “Dank Jehovah, roep sy naam aan” (Psalm 105:1). Om die waarheid te sê, God sien dit raak en waardeer dit wanneer mense “aan sy naam dink”.—Maleagi 3:16.

“Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”—Psalm 83:18.

Wat beteken God se naam?

Sommige geleerdes glo dat die naam Jehovah in Hebreeus “Hy laat word” beteken. Dit wil sê dat God homself of sy skepping enigiets kan laat word wat nodig is om sy wil uit te voer. Die almagtige Skepper is die enigste persoon wat hierdie naam waardig is.

WAT DIT VIR JOU BETEKEN

 

As jy God se naam ken, sal dit verander hoe jy oor hom voel. Dit sal vir jou makliker wees om nader aan hom te kom. Want hoe kan jy na aan iemand wees as jy nie sy naam ken nie? Die feit dat God sy naam aan jou bekend gemaak het, wys dat hy wil hê dat jy nader aan hom moet kom.—Jakobus 4:8.

Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah altyd getrou aan sy naam sal bly deur al sy beloftes te vervul. Daarom sê die Bybel: “Dié wat u naam ken, sal op u vertrou” (Psalm 9:10). Jy bou sulke vertroue op wanneer jy leer dat Jehovah se naam hand aan hand gaan met sy eienskappe, soos lojale liefde, genade, medelye en regverdigheid (Eksodus 34:5-7). Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah altyd sy beloftes sal hou sonder om ooit in stryd met sy eienskappe op te tree.

Om die almagtige God se naam te ken, is regtig ’n groot voorreg. Dit kan tot baie seëninge lei, nou en in die toekoms. God belowe: “Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het.”—Psalms 91:14.

“Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom.”—Joël 2:32.

God se naam in verskeie tale

^ par. 9 Baie Bybelvertalings vervang God se naam met “HERE” in hoofletters, terwyl ander God se naam net in sekere verse of voetnote sit. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif gebruik God se naam regdeur die Bybel.