Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om gelukkig en tevrede te wees

Hoe om gelukkig en tevrede te wees

Almal van ons – of ons nou enkel of getroud is, jonk of oud is – wil gelukkig en tevrede wees. Ons Skepper wil ook hê dat ons so moet voel. Daarom het hy vir ons uitstekende raad gegee.

Werk hard

“Laat hom . . . hard werk deur met sy hande goeie werk te doen sodat hy iets kan hê om te deel met iemand wat behoeftig is.” – EFESIËRS 4:28.

Ons Skepper wil hê dat ons ’n positiewe beskouing van werk moet hê. Hoekom? Iemand wat hard werk, is gelukkig omdat hy vir homself en sy gesin kan sorg. Hy kan dalk selfs iemand help wat behoeftig is. Sy werkgewer sal hom ook waardeer. Daarom is ’n goeie werker meer geneig om sy werk te behou. Die Skrif beskryf die goeie resultate van harde werk as “die gawe van God”. – Prediker 3:13.

Wees eerlik

“Ons is daarvan oortuig dat ons ’n eerlike gewete het, en ons wil ons in alles eerlik gedra.” – HEBREËRS 13:18.

Wanneer ons eerlik is, het ons selfrespek, geniet ons innerlike vrede en slaap ons saans beter. Ander mense sal ons ook vertrou en respekteer. Oneerlike mense kan nie hierdie goeie dinge geniet nie. Hulle gewete pla hulle ook dalk, en hulle is miskien bang dat hulle eendag vir hulle oneerlikheid uitgevang sal word.

Behou ’n gebalanseerde beskouing van geld

“Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het.” – HEBREËRS 13:5.

Ons het geld nodig vir kos en ander benodighede. Maar “die liefde vir geld” is baie gevaarlik. Dit kan veroorsaak dat iemand die meeste van sy tyd en energie gebruik om meer geld te maak. Omdat hy so hard probeer om meer geld te maak, kan sy huwelik daaronder ly, kan hy te min tyd vir sy kinders hê en kan dit selfs sleg wees vir sy gesondheid (1 Timoteus 6:9, 10). ’n Persoon wat lief is vir geld, kan ook in die versoeking kom om oneerlik te wees. ’n Wyse man het gesê: “’n Betroubare man sal baie seëninge kry, maar die een wat probeer om vinnig ryk te word, sal nie onskuldig bly nie.” – Spreuke 28:20.

Kies die beste opvoeding

“Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë.” – SPREUKE 3:21.

’n Goeie opvoeding help ons om verantwoordelike volwassenes en goeie ouers te wees. Maar net ’n goeie sekulêre opvoeding alleen kan nie ewige veiligheid of geluk waarborg nie. Om regtig suksesvol in alle aspekte van die lewe te wees, het ons die onderrigting nodig wat God ons gee. Die Skrif sê van iemand wat na God luister: “Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.” – Psalm 1:1-3.