Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe raak tegnologie jou vriendskappe?

Hoe raak tegnologie jou vriendskappe?

Teksboodskappe, e-posse, video-oproepe en sosiale media maak dit vir twee mense moontlik om maklik met mekaar te kommunikeer, al bly hulle in verskillende lande. Hulle gebruik tegnologie op ’n voordelige manier.

Maar party mense wat hoofsaaklik tegnologie gebruik om in kontak te bly met hulle vriende, is geneig om . . .

  • min simpatie vir hulle vriende te hê.

  • meer eensaam en innerlik leeg te voel.

  • meer gefokus te wees op hulleself as op hulle vriende.

WAT JY MOET WEET

SIMPATIE

As ons iemand anders se gevoelens wil verstaan, moet ons die tyd neem om aan hom of haar te dink. Dit kan moeilik wees om dit te doen wanneer ons te besig is om baie teksboodskappe te stuur en om na sosiale media te kyk.

As tegnologie jou begin beheer, sal dit later soos ’n las voel om op ’n vriend se boodskap te reageer. Jy kan so oorweldig voel dat jy net vinnig op al jou boodskappe wil reageer, of dit nou belangrik is of nie. En dan kom jy dalk nie eers agter dat een van jou vriende jou hulp nodig het nie.

IETS OM OOR TE DINK: Hoe kan jy ‘medelye betoon’ wanneer jy tegnologie gebruik om met jou vriende te kommunikeer? – 1 PETRUS 3:8.

EENSAAMHEID

Een studie het gewys dat baie mense eensamer voel nadat hulle tyd aan sosiale media spandeer het. Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat ’n persoon kan voel dat dit “’n mors van tyd” was om na foto’s te kyk van wat ander mense doen.

En wanneer mense na ander se opwindende foto’s op sosiale media kyk, voel hulle dat hulle eie lewe nie so opwindend is nie. Op die ou end lyk dit asof almal hulle lewe geniet terwyl jou lewe vervelig is.

IETS OM OOR TE DINK: Hoe kan jy dit vermy om jouself op ’n negatiewe manier met ander te vergelyk wanneer jy sosiale media gebruik? – GALASIËRS 6:4.

OM OP JOUSELF TE FOKUS

Een onderwyser het opgelet dat party van haar studente selfsugtig was. Hulle wou net vriende hê wat dinge vir hulle sal doen. * Sulke vriende fokus meer op wat hulle uit die vriendskap kan kry. So ’n persoon kan sy vriende soos apps beskou wat gebruik of afgesit kan word soos hy lus kry.

IETS OM OOR TE DINK: Wys dit wat ek op sosiale media sit dat ek geneig is om ’n kompeterende gees te hê of om te veel van myself te dink? – GALASIËRS 5:26.

WAT JY KAN DOEN

ONDERSOEK JOU GEBRUIK VAN TEGNOLOGIE

Wanneer tegnologie jou slaaf en nie jou baas is nie, kan dit jou help om in kontak met jou vriende te bly, en dit kan selfs jou vriendskappe sterker maak.

BYBELWAARHEID: “Liefde . . . soek nie sy eie belang nie.” – 1 KORINTIËRS 13:4, 5.

Kies die voorstelle wat jy wil probeer, of skryf jou eie idees neer.

  • Probeer om met mense in persoon te praat (eerder as om net teksboodskappe of e-posse te stuur)

  • Sit jou selfoon weg (of sit dit af) wanneer jy met iemand gesels

  • Probeer om minder tyd aan sosiale media te spandeer

  • Word ’n beter luisteraar

  • Kontak ’n vriend wat deur ’n moeilike tyd gaan

^ par. 17 Volgens die boek Reclaiming Conversation.