Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 1

God begin om dinge te maak

God begin om dinge te maak

AL DIE goeie dinge wat ons het, kom van God af. Hy het die son gemaak om vir ons in die dag lig te gee, en die maan en sterre sodat ons in die nag ’n bietjie lig kan hê. En God het die aarde gemaak sodat ons daarop kan lewe.

Maar die son, die maan, die sterre en die aarde was nie die eerste dinge wat God gemaak het nie. Weet jy wat hy eerste gemaak het? God het eers persone gemaak wat soos hy was. Ons kan hierdie persone nie sien nie, net soos ons God nie kan sien nie. Die Bybel noem hierdie persone engele. God het die engele gemaak om saam met hom in die hemel te lewe.

Die eerste engel wat God gemaak het, was baie spesiaal. Hy was God se eerste Seun, en hy het saam met sy Vader gewerk. Hy het God gehelp om alle ander dinge te maak. Hy het God gehelp om die son, die maan, die sterre en ook ons aarde te maak.

Hoe het die aarde toe gelyk? In die begin kon niemand op die aarde lewe nie. Daar was net een groot see bo-oor die land. Maar God wou hê dat mense op die aarde moet lewe. Daarom het hy begin om dinge vir ons reg te maak. Wat het hy gedoen?

Wel, die aarde het eerstens lig nodig gehad. Daarom het God die lig van die son op die aarde laat skyn. Hy het dit só gemaak dat daar nag en dag sou wees. Daarna het God die grond bokant die water van die see laat opkom.

Eers was daar niks op die land nie. Dit het soos hierdie prent gelyk. Daar was geen blomme of bome of diere nie. Daar was nie eens visse in die see nie. God moes nog baie doen om die aarde mooi te maak sodat diere en mense daarop kon lewe.