Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 4

Hulle verloor hulle tuiste

Hulle verloor hulle tuiste

KYK wat gebeur nou. Adam en Eva word uit die pragtige tuin van Eden weggejaag. Weet jy hoekom?

Dit is omdat hulle iets baie verkeerds gedoen het. En nou straf Jehovah hulle. Weet jy wat Adam en Eva gedoen het?

Hulle het iets gedoen wat God gesê het hulle nie mag doen nie. God het vir hulle gesê dat hulle die vrugte van die bome van die tuin kon eet. Maar van een boom het God gesê dat hulle nie mag eet nie, anders sou hulle doodgaan. Hy het daardie boom vir homself gehou. En ons weet mos dit is verkeerd om iets te vat wat aan iemand anders behoort, nè? Wel, wat het gebeur?

Terwyl Eva eendag alleen in die tuin was, het ’n slang met haar gepraat. Dink net daaraan! Dit het vir Eva gesê om vrugte te eet van die boom waarvan God gesê het hulle nie mag eet nie. Toe Jehovah slange gemaak het, het hy hulle nie gemaak sodat hulle kon praat nie. Dit kan dan net beteken dat iemand anders die slang laat praat het. Wie was dit?

Dit was nie Adam nie. Dit moes dan een van die persone gewees het wat Jehovah lank voor die aarde gemaak het. Daardie persone is engele, en ons kan hulle nie sien nie. Een van hierdie engele het baie trots geword. Hy het begin dink dat hy, net soos God, ’n heerser moet wees. En hy wou hê dat mense aan hom gehoorsaam moes wees in plaas van aan Jehovah. Hý was die engel wat die slang laat praat het.

Hierdie engel het dit reggekry om Eva te bedrieg. Toe hy vir haar gesê het dat sy soos God sou word as sy die vrug eet, het sy dit geglo. Daarom het sy geëet, en Adam ook. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God, en dit is hoekom hulle hulle pragtige tuintuiste verloor het.

Maar eendag sal God sorg dat die hele aarde so mooi soos die tuin van Eden lyk. Ons sal later uitvind hoe jy kan help om dit so te maak. Maar kom ons kyk nou wat met Adam en Eva gebeur het.