Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 5

’n Moeilike lewe begin

’n Moeilike lewe begin

BUITE die tuin van Eden het Adam en Eva baie probleme gehad. Hulle moes hard werk vir hulle kos. In plaas van mooi vrugtebome het daar dorings en dissels rondom hulle gegroei. Dit is wat gebeur het toe Adam en Eva aan God ongehoorsaam was en opgehou het om Sy vriende te wees.

Maar nog erger, Adam en Eva het begin doodgaan. Onthou, God het hulle gewaarsku dat hulle sou doodgaan as hulle die vrugte van ’n sekere boom eet. Wel, op dieselfde dag dat hulle daarvan geëet het, het hulle begin doodgaan. Hoe dwaas was hulle tog om nie na God te luister nie!

Adam en Eva se kinders is almal gebore nadat God hulle ouers uit die tuin van Eden weggejaag het. Dit beteken dat die kinders ook sou oud word en doodgaan.

As Adam en Eva maar net aan Jehovah gehoorsaam was, sou hulle en hulle kinders ’n gelukkige lewe gehad het. Hulle sou almal vir ewig in geluk op die aarde kon gelewe het. Niemand sou moes oud en siek geword en doodgegaan het nie.

God wil hê dat mense vir ewig in geluk moet lewe, en Hy belowe dat hulle eendag sal. Nie alleen sal die hele aarde mooi wees nie, maar al die mense sal gesond wees. En almal op die aarde sal goeie vriende van mekaar en van God wees.

Maar Eva was nie meer ’n vriendin van God nie. Daarom was dit nie vir haar maklik toe sy kinders gekry het nie. Sy het baie pyn gehad. Ongehoorsaamheid aan Jehovah het beslis vir haar baie verdriet veroorsaak, nie waar nie?

Adam en Eva het baie seuns en dogters gehad. Toe hulle eerste seun gebore is, het hulle hom Kain genoem. Hulle het hulle tweede seun Abel genoem. Wat het met hulle gebeur? Weet jy?