Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 6

’n Goeie en ’n slegte seun

’n Goeie en ’n slegte seun

KYK hoe lyk Kain en Abel nou. Hulle het albei grootgeword. Kain het ’n boer geword. Hy boer met graan en vrugte en groente.

Abel het ’n skaapwagter geword. Hy hou daarvan om lammetjies op te pas. Hulle word groot, en daarom het Abel sommer gou ’n hele trop skape om op te pas.

Eendag bring Kain en Abel ’n offer aan God. Kain bring van die kos wat hy gekweek het. En Abel bring die heel beste skaap wat hy het. Jehovah hou van Abel en sy offer. Maar hy hou nie van Kain en sy offer nie. Weet jy hoekom nie?

Dit is nie net dat Abel se offer beter as Kain s’n is nie. Dit is omdat Abel ’n goeie man is. Hy is lief vir Jehovah en sy broer. Maar Kain is sleg; hy is nie lief vir sy broer nie.

Daarom sê God vir Kain dat hy moet verander. Maar Kain luister nie. Hy is baie kwaad omdat God meer van Abel hou. Daarom sê Kain vir Abel: ‘Kom ons gaan veld toe.’ Toe hulle daar kom en hulle heeltemal alleen is, slaan Kain vir sy broer Abel. Hy slaan hom so hard dat hy hom doodslaan. Was dit nie ’n verskriklike ding wat Kain gedoen het nie?

Selfs al het Abel doodgegaan, onthou God hom nog altyd. Abel was ’n goeie mens, en Jehovah vergeet so iemand nooit. Daarom sal Jehovah God eendag vir Abel weer lewendig maak. Dan sal Abel nooit weer hoef dood te gaan nie. Hy sal vir ewig hier op die aarde kan lewe. Sal dit nie wonderlik wees om mense soos Abel te leer ken nie?

Maar God hou nie van mense soos Kain nie. Daarom het God vir Kain gestraf nadat hy sy broer doodgemaak het en hom ver van die res van sy gesin af weggestuur. Toe Kain weggegaan het om in ’n ander deel van die aarde te woon, het hy een van sy susters saamgeneem, en sy het sy vrou geword.

Later het Kain en sy vrou kinders gehad. Ander seuns en dogters van Adam en Eva het getrou, en hulle het ook kinders gehad. Daar was sommer gou baie mense op die aarde. Kom ons leer party van hulle beter ken.