Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 9

Noag bou ’n ark

Noag bou ’n ark

NOAG het ’n vrou en drie seuns gehad. Sy seuns se name was Sem, Gam en Jafet. En elkeen van hierdie seuns het ’n vrou gehad. Daar was met ander woorde agt mense in Noag se gesin.

God het Noag nou ’n eienaardige ding laat doen. Hy het vir hom gesê om ’n groot ark te bou. Hierdie ark was so groot soos ’n skip, maar dit het meer soos ’n groot, lang kis gelyk. ‘Maak dit drie verdiepings hoog’, het God gesê, ‘en bou kamers daarin.’ Die kamers was vir Noag en sy gesin, die diere en al die kos wat hulle sou nodig hê.

God het ook vir Noag gesê om die ark te maak sodat daar geen water kan inkom nie. God het gesê: ‘Ek gaan ’n groot watervloed bring en die hele wêreld vernietig. Almal wat nie in die ark is nie, sal doodgaan.’

Noag en sy seuns het Jehovah gehoorsaam en begin bou. Maar die ander mense het net gelag. Hulle het aangehou om slegte dinge te doen. Niemand het Noag geglo toe hy vir hulle vertel het wat God gaan doen nie.

Omdat die ark so groot was, het dit lank gevat om dit te bou. Ná baie jare was dit uiteindelik klaar. Toe het God vir Noag gesê om die diere in die ark in te bring. God het gesê dat hy van party soorte diere twee, ’n mannetjie en ’n wyfie, moes inbring. Maar van ander soorte diere het God vir Noag gesê dat hy sewe moes inbring. God het ook vir Noag gesê om al die soorte voëls in te bring. Noag het gedoen net soos God gesê het.

Daarna het Noag en sy gesin ook in die ark ingegaan. Toe het God die deur toegemaak. Binne-in het Noag en sy gesin gewag. Verbeel jou jy sit saam met hulle in die ark en wag. Gaan daar regtig ’n vloed wees soos God gesê het?