Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 11

Die eerste reënboog

Die eerste reënboog

WEET jy wat Noag heel eerste gedoen het nadat hy en sy gesin uit die ark gekom het? Hy het ’n offer of gawe aan God gebring. In die prent hieronder kan jy sien hoe hy dit doen. Noag het hierdie diere geoffer om vir God dankie te sê omdat Hy sy gesin uit die groot vloed gered het.

Dink jy die gawe het Jehovah bly gemaak? Ja, dit het. Daarom het hy vir Noag belowe dat hy nooit weer die wêreld deur ’n vloed sal vernietig nie.

Die grond was gou heeltemal droog, en Noag en sy gesin het ’n nuwe lewe buite die ark begin. God het hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Julle moet baie kinders hê. Julle moet meer word totdat daar mense oor die hele aarde woon.’

Maar as mense later van die groot vloed hoor, sou hulle miskien bang wees dat daar weer so ’n vloed sal kom. Daarom het God iets gegee wat mense sou herinner aan sy belofte om nooit weer die hele aarde te laat oorstroom nie. Weet jy wat hy gegee het om hulle daaraan te herinner? Dit was ’n reënboog.

’n Mens sien baie keer ’n reënboog in die lug wanneer die son skyn nadat dit gereën het. Reënboë het ’n hele paar pragtige kleure. Het jy al ooit een gesien? Sien jy die een in die prent?

God het gesê: ‘Ek belowe dat alle mense en diere nooit weer deur ’n vloed vernietig sal word nie. Ek sit my reënboog in die wolke. En wanneer die reënboog verskyn, sal ek dit sien en hierdie belofte van my onthou.’

Waaraan moet dit jou dan laat dink wanneer jy ’n reënboog sien? Ja, aan God se belofte dat hy nooit weer die wêreld deur ’n groot vloed sal vernietig nie.