Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 12

Mense bou ’n groot toring

Mense bou ’n groot toring

BAIE jare het verbygegaan. Noag se seuns het baie kinders gehad. En hulle kinders het groot geword en ook kinders gehad. Daar was gou baie mense op die aarde.

Een van hierdie mense was ’n agterkleinseun van Noag met die naam Nimrod. Hy was ’n slegte man wat diere sowel as mense gejag en doodgemaak het. Nimrod het homself ook ’n koning gemaak wat oor ander mense regeer. God het nie van Nimrod gehou nie.

Al die mense wat toe geleef het, het een taal gepraat. Nimrod wou hulle bymekaar laat bly sodat hy oor hulle kon regeer. Weet jy wat hy toe gedoen het? Hy het vir die mense gesê om ’n stad te bou met ’n groot toring daarin. In die prent kan jy sien hoe hulle bakstene maak.

Jehovah God het nie van hierdie bouery gehou nie. God wou hê die mense moes wegtrek en oor die hele aarde woon. Maar die mense het gesê: ‘Kom! Laat ons ’n stad bou en ’n toring wat so hoog is dat sy punt tot by die hemel kom. Dan sal ons beroemd wees!’ Die mense het hulle eie eer gesoek, nie God s’n nie.

Daarom het God die mense laat ophou om die toring te bou. Weet jy hoe hy dit gedoen het? Deur mense skielik verskillende tale te laat praat, in plaas van net een. Die bouers kon mekaar toe nie meer verstaan nie. Dit is hoekom hulle stad Babel, of Babilon, genoem is, want dit beteken “Verwarring”.

Die mense het nou van Babel af begin wegtrek. Groepe mense wat dieselfde taal gepraat het, het saam in ander dele van die aarde gaan woon.