Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 13

Abraham—’n Vriend van God

Abraham—’n Vriend van God

EEN van die plekke waar mense ná die Vloed gaan woon het, is Ur genoem. Dit het ’n belangrike stad geword, en daar was mooi huise daarin. Maar die mense wat daar gewoon het, het valse gode aanbid. Dit was wat hulle ook in Babel gedoen het. Die mense in Ur en Babel was nie soos Noag en sy seun Sem wat aangehou het om Jehovah te dien nie.

Getroue Noag het 350 jaar ná die vloed doodgegaan. Net twee jaar later is die man wat jy in hierdie prent sien, gebore. Hy was ’n baie spesiale persoon vir God. Sy naam was Abraham. Hy het saam met sy familie in die stad Ur gewoon.

Eendag het Jehovah vir Abraham gesê: ‘Gaan weg uit Ur en van jou familielede, en gaan na ’n land wat ek vir jou sal wys.’ Was Abraham gehoorsaam aan God en het hy weggegaan van al die geriewe in Ur? Ja. En dit was omdat Abraham altyd gehoorsaam was aan God dat hy later God se vriend genoem is.

Party van Abraham se familielede het saam met hom gegaan toe hy uit Ur weggetrek het. Sy pa Tera het, en ook sy neef Lot. En Abraham se vrou Sara het natuurlik ook saamgegaan. Na ’n ruk het hulle by ’n plek met die naam Haran gekom, waar Tera doodgegaan het. Hulle was ver van Ur af.

Na ’n ruk het Abraham en sy huisgesin uit Haran weggegaan en in die land Kanaän gekom. Daar het Jehovah gesê: ‘Dít is die land wat ek aan jou kinders gaan gee.’ Abraham het in Kanaän gebly en in tente gewoon.

God het Abraham begin help sodat hy uiteindelik groot troppe skape en ander diere en honderde diensknegte gehad het. Maar hy en Sara het geen kinders gehad nie.

Toe Abraham 99 jaar oud was, het Jehovah gesê: ‘Ek belowe jou dat jy die vader van baie nasies sal word.’ Maar hoe kon dit gebeur, as Abraham en Sara nou al te oud was om ’n kind te hê?