Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 18

Jakob gaan na Haran

Jakob gaan na Haran

WEET jy wie hierdie mans is met wie Jakob gesels? Nadat hy baie dae lank gereis het, het Jakob hulle by ’n put ontmoet. Hulle het hulle skape opgepas. Jakob het gevra: ‘Waar kom julle vandaan?’

‘Haran’, het hulle gesê.

‘Ken julle vir Laban?’ het Jakob gevra.

‘Ja’, het hulle geantwoord. ‘Kyk, hier kom sy dogter Ragel met sy trop skape.’ Kan jy Ragel daar in die verte sien aankom?

Toe Jakob vir Ragel met sy oom Laban se skape sien, het hy die klip van die put af weggerol sodat die skape kon drink. Toe het Jakob vir Ragel gesoen en vir haar gesê wie hy is. Sy was baie opgewonde en het huis toe gegaan en vir haar pa, Laban, daarvan vertel.

Laban was baie bly dat Jakob by hom kom bly het. En toe Jakob vra om met Ragel te trou, het dit Laban gelukkig gemaak. Maar hy het vir Jakob gevra om sewe jaar lank vir Ragel op sy grond te werk. Omdat Jakob baie lief was vir Ragel, het hy dit gedoen. Maar weet jy wat gebeur het toe die tyd kom vir hulle om te trou?

Laban het sy oudste dogter Lea vir Jakob gegee in plaas van Ragel. Nadat Jakob gesê het dat hy nog sewe jaar vir Laban sou werk, het Laban vir hom ook Ragel gegee om mee te trou. In daardie dae het God mans toegelaat om meer as een vrou te hê. Maar nou mag ’n man, soos die Bybel sê, net een vrou hê.