Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 23

Farao se drome

Farao se drome

TWEE jaar gaan verby, en Josef is nog steeds in die tronk. Die skinker het hom nie onthou nie. Een nag het Farao twee baie spesiale drome, en hy wonder wat hulle beteken. Sien jy hom hier slaap? Die volgende oggend laat roep Farao sy wyse manne en vertel hy vir hulle van die dinge wat hy gedroom het. Maar hulle kan nie vir hom sê wat sy drome beteken nie.

Nou onthou die skinker uiteindelik vir Josef. Hy sê vir Farao: ‘Toe ek in die tronk was, was daar ’n man wat kon sê wat drome beteken.’ Farao laat Josef dadelik uit die tronk haal.

Farao vertel vir Josef sy drome: ‘Ek het sewe vet, mooi koeie gesien. Toe het ek sewe brandmaer koeie gesien. En die maer koeie het die vettes opgeëet.

‘In my tweede droom het ek sewe are vol ryp graan aan een steel gesien. Toe het ek sewe dun, uitgedroogde are gesien. En die maer are het begin om die sewe goeie are in te sluk.’

Josef sê vir Farao: ‘Die twee drome beteken dieselfde. Die sewe vet koeie en die sewe vol graanare beteken sewe jaar, en die sewe maer koeie en die sewe dun graanare beteken nog sewe jaar. Daar sal sewe jaar wees wanneer daar baie kos in Egipte sal wees. Dan sal daar sewe jaar wees wanneer daar baie min kos sal wees.’

Toe sê Josef vir Farao: ‘Kies ’n wyse man en stel hom aan om gedurende die sewe goeie jare kos bymekaar te maak. Dan sal die mense nie van die honger doodgaan in die sewe swaar jare daarna wanneer daar baie min kos sal wees nie.’

Farao hou van die idee. En hy kies Josef om die kos bymekaar te maak en in skure te sit. Josef word die belangrikste man in Egipte, naas Farao.

Agt jaar later, gedurende die hongersnood, sien Josef ’n paar manne wat soontoe kom. Weet jy wie hulle is? Dit is sy 10 ouer broers! Hulle pa, Jakob, het hulle na Egipte toe gestuur omdat hulle kos in Kanaän besig was om op te raak. Josef herken sy broers, maar hulle herken hom nie. Weet jy hoekom nie? Dit is omdat Josef ouer geword het en sy klere anders is.

Josef onthou dat hy, toe hy ’n seun was, gedroom het dat sy broers voor hom kom buig. Onthou jy dat ons dit gelees het? Nou weet Josef dat dit God is wat hom na Egipte toe gestuur het, en dit met ’n goeie rede. Wat dink jy doen Josef nou? Kom ons kyk.