Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 24

Josef toets sy broers

Josef toets sy broers

JOSEF wil weet of sy 10 ouer broers nog steeds gemeen en wreed is. Daarom sê hy: ‘Julle is spioene. Julle het gekom om uit te vind waar ons land swak is.’

‘Nee, ons is nie’, sê hulle. ‘Ons is eerlike manne. Ons is almal broers. Ons was 12. Maar een broer lewe nie meer nie, en die jongste is by die huis by ons pa.’

Josef maak of hy hulle nie glo nie. Hy sit sy broer Siʹmeon in die tronk, en laat die ander kos neem en huis toe gaan. Maar hy sê vir hulle: ‘Wanneer julle terugkom, moet julle julle jongste broer saambring.’

Wanneer hulle in Kanaän by die huis kom, vertel die broers vir hulle pa, Jakob, alles wat gebeur het. Jakob is baie hartseer. ‘Josef is weg’, roep hy uit, ‘en nou is Siʹmeon weg. Ek sal nie toelaat dat julle my jongste seun, Benjamin, neem nie.’ Maar wanneer hulle kos begin opraak, moet Jakob eenvoudig vir Benjamin saam met hulle na Egipte toe laat gaan sodat hulle nog kos kan kry.

Josef sien sy broers aankom. Hy is baie bly om sy jonger broer, Benjamin, te sien. Nie een van hulle weet natuurlik dat hierdie belangrike man Josef is nie. Josef doen nou iets om sy 10 halfbroers te toets.

Hy laat sy knegte al hulle sakke vol kos maak. Maar sonder dat hulle dit weet, laat hy ook sy spesiale silwerbeker in Benjamin se sak sit. Nadat hulle almal vertrek het en ’n entjie gereis het, stuur Josef sy knegte agter hulle aan. Wanneer die knegte hulle inhaal, sê hulle: ‘Hoekom het julle ons heer se silwerbeker gesteel?’

‘Ons het nie sy beker gesteel nie’, sê al die broers. ‘As julle die beker by enigeen van ons kry, kan julle hom doodmaak.’

Dan soek die knegte deur al die sakke, en hulle kry die beker in Benjamin se sak, soos jy hier kan sien. Die knegte sê: ‘Die res van julle kan gaan, maar Benjamin moet saam met ons kom.’ Wat gaan die 10 halfbroers nou doen?

Hulle gaan almal saam met Benjamin terug na Josef se huis toe. Josef sê vir sy broers: ‘Julle kan almal huis toe gaan, maar Benjamin moet hier bly as my slaaf.’

Juda sê nou: ‘As ek sonder die seun by die huis aankom, sal my pa doodgaan, want hy is baie lief vir hom. Hou my hier as u slaaf, maar laat die seun asseblief huis toe gaan.’

Josef kan sien dat sy broers verander het. Hulle is nie meer gemeen en wreed nie. Kom ons vind uit wat Josef nou doen.