Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verhaal 26

Job is getrou aan God

Job is getrou aan God

KRY jy hierdie siek man jammer? Sy naam is Job, en dit is sy vrou wat by hom staan. Weet jy wat sê sy vir Job? ‘Vervloek God en sterf.’ Kom ons kyk hoekom sy so ’n verskriklike ding gesê het en hoekom Job soveel gely het.

Job was ’n getroue man wat gehoorsaam was aan Jehovah. Hy het in die land Us gewoon, nie ver van Kanaän af nie. Jehovah was baie lief vir Job, maar daar was iemand wat hom gehaat het. Weet jy wie?

Dit was Satan die Duiwel. Onthou, Satan is die slegte engel wat vir Jehovah haat. Hy het Adam en Eva sover gekry om aan Jehovah ongehoorsaam te wees, en hy het gedink hy kan alle ander mense ook sover kry om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Maar kon hy? Nee. Dink net aan al die getroue mans en vroue waarvan ons geleer het. Hoeveel kan jy opnoem?

Nadat Jakob en Josef in Egipte doodgegaan het, was daar niemand anders op die hele aarde wat so getrou was aan Jehovah soos Job nie. Jehovah wou hê Satan moet weet dat hy nie almal sover kon kry om sleg te wees nie, en daarom het hy gesê: ‘Kyk na Job. Kyk hoe getrou is hy aan my.’

‘Hy is getrou’, het Satan gesê, ‘want u seën hom en hy het baie goeie dinge. Maar as u dit wegvat, sal hy u vervloek.’

Toe het Jehovah gesê: ‘Goed dan. Vat dit weg. Doen al die slegte dinge aan Job wat jy wil. Ons sal sien of hy my sal vervloek. Sorg net dat jy hom nie doodmaak nie.’

Eers het Satan gereël dat mense Job se beeste en kamele kom steel, en sy skape is doodgemaak. Toe het hy sy 10 seuns en dogters in ’n storm doodgemaak. Daarna het Satan Job met hierdie verskriklike siekte getref. Job het baie gely. Dit is hoekom Job se vrou vir hom gesê het: ‘Vervloek God en sterf.’ Maar Job het geweier. Drie valse vriende het ook gekom en vir hom gesê dat hy ’n slegte lewe gelei het. Maar Job het getrou gebly.

Dit het Jehovah baie bly gemaak, en daarna het hy Job geseën, soos jy in die prent kan sien. Hy het Job gesond gemaak. Job het nog 10 pragtige kinders gehad, asook twee keer soveel beeste, skape en kamele as wat hy vroeër gehad het.

Sal jy altyd aan Jehovah getrou wees, soos Job? As jy is, sal God jou ook seën. Jy sal vir ewig kan lewe wanneer die hele aarde net so mooi soos die tuin van Eden gemaak is.