Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 27

’n Slegte koning in Egipte

’n Slegte koning in Egipte

HIERDIE mans dwing die mense om te werk. Kyk na die man wat een van die werkers met ’n sweep slaan! Die werkers is uit die familie van Jakob, en hulle word Israeliete genoem. En die mans wat hulle dwing om te werk, is Egiptenaars. Die Israeliete het die Egiptenaars se slawe geword. Hoe het dit gebeur?

Jare lank het Jakob se groot familie in vrede in Egipte gelewe. Josef, wat die belangrikste man in Egipte was naas Farao, die koning, het vir hulle gesorg. Maar toe het Josef doodgegaan. En ’n nuwe Farao, wat nie van die Israeliete gehou het nie, het in Egipte koning geword.

Hierdie slegte Farao het die Israeliete slawe gemaak. En hy het gemene en wrede mans oor hulle aangestel. Hulle het die Israeliete gedwing om baie hard te werk om stede vir Farao te bou. Maar die Israeliete het al hoe meer geword. Na ’n ruk het die Egiptenaars bang geword dat die Israeliete te veel en te sterk sou word.

Weet jy wat Farao gedoen het? Hy het met die vroue gepraat wat die Israelitiese ma’s gehelp het wanneer hulle babas kry en vir hulle gesê: ‘Julle moet elke seuntjie wat gebore word, doodmaak.’ Maar hulle was goeie vroue, en hulle het nie die babas doodgemaak nie.

Toe het Farao sy hele volk beveel: ‘Vat die Israelitiese babaseuntjies en maak hulle dood. Laat net die babadogtertjies lewe.’ Was dit nie ’n verskriklike ding om te sê nie? Kom ons kyk hoe een van die babaseuntjies gered is.