Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 29

Hoekom Moses gevlug het

Hoekom Moses gevlug het

KYK hoe vlug Moses uit Egipte. Kan jy die mans sien wat hom jaag? Weet jy hoekom hulle Moses wil doodmaak? Kom ons kyk of ons kan uitvind.

Moses het in die huis van Farao, die heerser van Egipte, grootgeword. Hy het ’n baie wyse en belangrike man geword. Moses het geweet dat hy nie ’n Egiptenaar is nie, maar dat sy regte ouers Israelitiese slawe is.

Eendag, toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit met sy volk gaan. Hulle is verskriklik sleg behandel. Hy het ’n Egiptenaar gesien wat ’n Israelitiese slaaf slaan. Moses het rondgekyk, en toe hy sien dat niemand kyk nie, het hy die Egiptenaar geslaan, en die Egiptenaar het doodgegaan. Toe het Moses sy liggaam in die sand weggesteek.

Die volgende dag het Moses weer na sy volk toe gegaan. Hy het gedink dat hy hulle kon help sodat hulle nie meer slawe sou wees nie. Maar hy het twee Israelitiese mans sien baklei. Toe het Moses vir die een wie se skuld dit was, gesê: ‘Hoekom slaan jy jou broer?’

Die man het gesê: ‘Wie het jou as heerser en regter aangestel? Gaan jy my doodmaak net soos jy daardie Egiptenaar doodgemaak het?’

Moses het nou bang geword. Hy het geweet dat mense uitgevind het wat hy aan die Egiptenaar gedoen het. Selfs Farao het daarvan gehoor, en hy het mans gestuur om Moses dood te maak. Dit is hoekom Moses uit Egipte moes vlug.

Toe Moses uit Egipte weggegaan het, het hy ver weg gegaan, na die land Miʹdian toe. Daar het hy Jetro se gesin ontmoet en met een van sy dogters, Sippoʹra, getrou. Moses het ’n herder geword en Jetro se skape opgepas. Hy het 40 jaar lank in die land Miʹdian gewoon. Hy was nou 80 jaar oud. Terwyl hy Jetro se skape opgepas het, het daar eendag iets verbasends gebeur wat Moses se hele lewe verander het. Blaai om en kom ons kyk wat hierdie verbasende ding is.