Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 31

Moses en Aäron by Farao

Moses en Aäron by Farao

TOE Moses in Egipte teruggekom het, het hy vir sy broer Aäron van die wonderwerke vertel. En toe Moses en Aäron hierdie wonderwerke vir die Israeliete gewys het, het die mense almal geglo dat Jehovah met hulle was.

Toe het Moses en Aäron na Farao toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: ‘Jehovah, die God van Israel, sê: “Laat my volk drie dae lank gaan sodat hulle my in die wildernis kan aanbid.”’ Maar Farao het geantwoord: ‘Ek glo nie aan Jehovah nie. En ek sal Israel nie laat gaan nie.’

Farao was kwaad omdat die mense tyd by die werk wou afkry om Jehovah te aanbid. Daarom het hy hulle gedwing om selfs harder te werk. Die Israeliete het gesê dit is Moses se skuld dat hulle so sleg behandel word, en Moses het hartseer gevoel. Maar Jehovah het vir hom gesê om nie daaroor bekommerd te wees nie. ‘Ek sal Farao dwing om my volk te laat gaan’, het Jehovah gesê.

Moses en Aäron het weer na Farao toe gegaan. Hierdie keer het hulle ’n wonderwerk gedoen. Aäron het sy stok neergegooi, en dit het ’n groot slang geword. Maar Farao se wyse manne het ook stokke neergegooi, en dit het slange geword. Maar, kyk! Aäron se slang eet die wyse manne se slange op. Farao wou die Israeliete nog steeds nie laat gaan nie.

Toe het die tyd gekom dat Jehovah vir Farao ’n les leer. Weet jy hoe hy dit gedoen het? Hy het 10 plae, of groot probleme, oor Egipte gebring.

Ná baie van die plae het Farao vir Moses laat roep en gesê: ‘Laat die plaag ophou, en ek sal Israel laat gaan.’ Maar wanneer die plaag opgehou het, het Farao van plan verander. Hy het die volk nie laat gaan nie. Maar uiteindelik, ná die 10de plaag, het Farao die Israeliete weggestuur.

Weet jy wat elkeen van die 10 plae was? Blaai om en laat ons meer van hulle leer.