Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 33

Deur die Rooi See

Deur die Rooi See

KYK net wat gebeur! Dit is Moses wat sy stok oor die Rooi See uitsteek. Die mense wat veilig saam met hom aan die oorkant is, is die Israeliete. Maar Farao en sy hele leër verdrink in die see. Kom ons kyk hoe dit gebeur het.

Soos ons geleer het, het Farao vir die Israeliete gesê om uit Egipte weg te gaan nadat God die 10de plaag oor die Egiptenaars gebring het. Omtrent 600 000 Israelitiese mans het uitgetrek, en ook baie vroue en kinders. Baie ander mense, wat in Jehovah begin glo het, het ook saam met die Israeliete getrek. Hulle het almal hulle skape en bokke en beeste saam met hulle geneem.

Voordat hulle weggegaan het, het die Israeliete die Egiptenaars gevra vir klere en goed wat van goud en silwer gemaak is. Die Egiptenaars was baie bang as gevolg van die laaste plaag wat hulle getref het. Daarom het hulle die Israeliete alles gegee waarvoor hulle gevra het.

Ná ’n paar dae het die Israeliete by die Rooi See gekom. Daar het hulle gerus. Intussen het Farao en sy manne begin spyt kry dat hulle die Israeliete weggestuur het. ‘Ons het ons slawe laat gaan!’ het hulle gesê.

Toe het Farao weer ’n keer van plan verander. Hy het gou sy strydwa en sy leër gereed gekry. Toe het hy die Israeliete met 600 spesiale strydwaens, tesame met al die ander strydwaens van Egipte, agternagesit.

Toe die Israeliete sien dat Farao en sy leër agter hulle aan kom, was hulle baie bang. Hulle kon nêrens heen vlug nie. Die Rooi See was aan die een kant, en die Egiptenaars het van die ander kant af gekom. Maar Jehovah het ’n wolk tussen sy volk en die Egiptenaars laat kom. Daarom kon die Egiptenaars die Israeliete nie sien om hulle aan te val nie.

Jehovah het toe vir Moses gesê om sy stok oor die Rooi See uit te steek. Toe hy dit doen, het Jehovah ’n sterk oostewind laat waai. Die waters van die see is verdeel en is aan albei kante teruggehou.

Toe het die Israeliete op droë grond deur die see begin trek. Dit het ure geneem vir die miljoene mense met al hulle diere om veilig aan die ander kant van die see uit te kom. Uiteindelik kon die Egiptenaars die Israeliete weer sien. Hulle slawe was besig om weg te kom! Daarom het hulle die see ingestorm agter hulle aan.

Toe hulle dit doen, het God het die wiele van hulle strydwaens laat afval. Die Egiptenaars het baie bang geword en begin uitroep: ‘Jehovah veg vir die Israeliete teen ons. Laat ons hier uitkom!’ Maar dit was te laat.

Dit was toe dat Jehovah vir Moses gesê het om sy stok oor die Rooi See uit te steek, soos jy in die prent gesien het. En toe Moses dit doen, het die mure van water begin terugvloei en oor die Egiptenaars en hulle strydwaens gespoel. Die hele leër het die Israeliete die see in gevolg. En nie een van die Egiptenaars het lewendig uitgekom nie!

Hoe bly was God se hele volk tog dat hulle gered is! Die mans het ’n danklied aan Jehovah gesing en gesê: ‘Jehovah het ’n wonderlike oorwinning behaal. Hy het die perde en hulle ruiters in die see gegooi.’ Moses se suster Mirjam het haar tamboeryn gevat, en al die vroue het haar met hulle tamboeryne gevolg. En terwyl hulle van vreugde gedans het, het hulle dieselfde lied as die mans gesing: ‘Jehovah het ’n wonderlike oorwinning behaal. Hy het die perde en hulle ruiters in die see gegooi.’