Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 34

’n Nuwe soort kos

’n Nuwe soort kos

KAN jy sien wat die mense van die grond af optel? Dit lyk soos ryp. Dit is wit, en dit is dun en vlokkerig. Maar dit is nie ryp nie; dit is iets om te eet.

Dit is net omtrent ’n maand nadat die Israeliete uit Egipte weggegaan het. Hulle is in die wildernis. Hier groei min kos, en daarom kla die mense: ‘Ons wens Jehovah het ons in Egipte doodgemaak. Daar het ons ten minste oorgenoeg kos gehad.’

Daarom sê Jehovah: ‘Ek gaan kos uit die hemel laat reën.’ En dit is wat Jehovah doen. Wanneer die Israeliete die volgende oggend hierdie wit goed sien wat geval het, vra hulle vir mekaar: ‘Wat is dit?’

Moses sê: ‘Dit is die kos wat Jehovah vir julle gee om te eet.’ Die mense noem dit MANNA. Dit smaak soos dun koeke wat met heuning gemaak is.

‘Julle mag soveel optel as wat elkeen kan eet’, sê Moses vir die volk. Dit is dan wat hulle elke oggend doen. Wanneer die son warm word, smelt die manna wat op die grond oorgebly het.

Moses sê ook: ‘Niemand mag enige manna tot die volgende dag oorhou nie.’ Maar party van die mense luister nie. Weet jy wat gebeur? Die volgende oggend is die manna wat hulle oorgehou het, vol wurms, en dit begin stink!

Maar daar is een dag van die week waarop Jehovah sê dat die volk twee keer soveel manna moet optel. Dit is op die sesde dag. En Jehovah sê hulle moet tot die volgende dag daarvan oorhou, want hy sal op die sewende dag niks laat val nie. Wanneer hulle die manna tot die sewende dag oorhou, raak dit nie vol wurms nie en stink dit nie! Dit is nog ’n wonderwerk!

Al die jare wat die Israeliete in die wildernis is, gee Jehovah vir hulle manna om te eet.