Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 35

Jehovah gee sy wette

Jehovah gee sy wette

OMTRENT twee maande nadat hulle uit Egipte weggegaan het, kom die Israeliete by die berg Siʹnai, wat ook Horeb genoem word. Dit is dieselfde plek waar Jehovah uit die brandende bos met Moses gepraat het. Die volk slaan kamp op en bly ’n rukkie hier.

Terwyl die volk onder wag, klim Moses op die berg. Bo-op die berg sê Jehovah vir Moses Hy wil hê die Israeliete moet aan Hom gehoorsaam wees en Sy spesiale volk word. Wanneer Moses afkom, vertel hy vir die Israeliete wat Jehovah gesê het. En die mense sê hulle sal aan Jehovah gehoorsaam wees, want hulle wil sy volk wees.

Nou doen Jehovah iets eienaardigs. Hy laat die top van die berg rook en veroorsaak harde donderslae. Hy praat ook met die volk: ‘Ek is Jehovah julle God wat julle uit Egipte uitgelei het.’ Dan beveel hy: ‘Julle mag geen ander gode behalwe my aanbid nie.’

God gee vir die Israeliete nog nege gebooie, of wette. Die mense is baie bang. Hulle sê vir Moses: ‘Praat jy met ons, want ons is bang dat ons sal doodgaan as God met ons praat.’

Later sê Jehovah vir Moses: ‘Klim op die berg na my toe. Ek sal vir jou twee plat klippe gee waarop ek die wette geskryf het wat ek wil hê die volk moet hou.’ Toe klim Moses weer teen die berg op. Hy bly 40 dae en nagte daar.

God het baie, baie wette vir sy volk. Moses skryf hierdie wette neer. God gee ook vir Moses die twee plat klippe. Hierop het God die 10 wette geskryf wat hy self vir die hele volk gegee het. Dit word die Tien Gebooie genoem.

Die Tien Gebooie is belangrike wette. Maar al die ander wette wat God vir die Israeliete gee, is ook belangrik. Een van hierdie wette is: ‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart, jou hele verstand, jou hele siel en al jou krag.’ En ’n ander is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ God se Seun, Jesus Christus, het gesê dat dit die twee grootste wette is wat Jehovah vir sy volk Israel gegee het. Ons sal later baie dinge van God se Seun en sy leringe leer.