Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 36

Die goue kalf

Die goue kalf

O AARDE! Wat doen die mense nou? Hulle aanbid ’n kalf! Hoekom doen hulle dit?

Toe Moses ’n lang ruk op die berg bly, sê die mense: ‘Ons weet nie wat met Moses gebeur het nie. Kom ons maak nou ’n god wat ons uit hierdie land kan lei.’

‘Goed dan’, sê Moses se broer Aäron. ‘Haal julle goue oorringe af en bring dit vir my.’ Wanneer die mense dit doen, smelt Aäron dit en maak hy ’n goue kalf. En die mense sê: ‘Dit is ons God, wat ons uit Egipte uitgelei het!’ Dan hou die Israeliete ’n groot fees, en hulle aanbid die goue kalf.

Wanneer Jehovah dit sien, is hy baie kwaad. Daarom sê hy vir Moses: ‘Maak gou en klim af. Die mense doen iets baie slegs. Hulle het my wette vergeet en buig voor ’n goue kalf.’

Moses klim vinnig teen die berg af. En wanneer hy naby kom, is dít wat hy sien. Die mense sing en dans rondom die goue kalf! Moses is so kwaad dat hy die twee plat klippe met die wette daarop neergooi, en hulle breek in baie stukkies. Hy vat dan die goue kalf en smelt dit. Daarna maal hy dit totdat dit poeier is.

Die mense het ’n baie slegte ding gedoen. Daarom sê Moses vir party van die mans om hulle swaarde te vat. ‘Die slegte mense wat die goue kalf aanbid het, moet doodgemaak word’, sê Moses. Die mans maak toe 3 000 mense dood! Wys dit nie dat ons moet sorg dat ons net vir Jehovah aanbid, en geen valse gode nie?