Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 40

Moses slaan die rots

Moses slaan die rots

DIE jare gaan verby—10 jaar, 20 jaar, 30 jaar, 39 jaar! En die Israeliete is nog steeds in die wildernis. Maar gedurende al hierdie jare sorg Jehovah vir sy volk. Hy gee vir hulle manna om te eet. In die dag lei hy hulle met ’n wolkkolom en in die nag met ’n vuurkolom. En gedurende al hierdie jare dra hulle nie hulle klere op nie en word hulle voete nie seer nie.

Dit is nou die eerste maand van die 40ste jaar nadat hulle uit Egipte weggegaan het. Die Israeliete slaan weer by Kades kamp op. Hulle was hier toe die 12 spioene uitgestuur is om die land Kanaän amper 40 jaar gelede te verken. Moses se suster Mirjam gaan in Kades dood. En soos vroeër is daar weer moeilikheid hier.

Die volk kan nêrens water kry nie. Daarom kla hulle by Moses: ‘Dit sou beter gewees het as ons doodgegaan het. Hoekom het jy ons uit Egipte gebring na hierdie verskriklike plek waar niks groei nie? Daar is geen graan, geen vye, geen druiwe en geen granate nie. Daar is nie eens water om te drink nie.’

Wanneer Moses en Aäron na die tabernakel toe gaan om te bid, sê Jehovah vir Moses: ‘Laat die volk bymekaarkom. Praat dan voor hulle almal met daardie rots daar. Daar sal genoeg water daaruit kom vir die volk en al hulle diere.’

Daarom laat Moses die volk bymekaarkom, en hy sê: ‘Luister hier, julle wat geen vertroue in God het nie! Moet ek en Aäron vir julle water uit hierdie rots laat kom?’ Dan slaan Moses die rots twee keer met ’n stok, en ’n groot stroom water vloei daaruit. Daar is genoeg water vir die hele volk en al die diere om te drink.

Maar Jehovah is kwaad vir Moses en Aäron. Weet jy hoekom? Dit is omdat Moses en Aäron gesê het dat hulle water uit die rots gaan laat kom. Maar dit was eintlik Jehovah wat dit laat gebeur het. En omdat Moses en Aäron nie die waarheid hieroor vertel het nie, sê Jehovah hy gaan hulle straf. ‘Julle sal my volk nie in Kanaän inlei nie’, sê hy.

Kort daarna gaan die Israeliete weg uit Kades. Na ’n kort rukkie kom hulle by die berg Hor. Aäron gaan bo-op hierdie berg dood. Hy is 123 jaar oud wanneer hy doodgaan. Die Israeliete is baie hartseer, en die hele volk huil 30 dae oor Aäron. Sy seun Eleaʹsar word die volgende hoëpriester van die nasie Israel.