Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 41

Die koperslang

Die koperslang

LYK dit soos ’n regte slang daar om die paal? Dit is nie. Die slang is van koper gemaak. Jehovah het vir Moses gesê om dit op die paal te sit sodat die volk daarna kan kyk en aan die lewe kan bly. Maar die ander slange op die grond is regte slange. Hulle het die mense gepik en siek gemaak. Weet jy hoekom?

Dit is omdat die Israeliete teen God en Moses gepraat het. Hulle kla: ‘Hoekom het julle ons uit Egipte uitgelei om in hierdie wildernis dood te gaan? Daar is niks kos of water hier nie. En ons is siek en sat vir hierdie manna.’

Maar die manna is goeie kos. Jehovah het dit deur ’n wonderwerk vir hulle gegee. En hy het ook deur ’n wonderwerk vir hulle water gegee. Maar die mense is nie dankbaar oor die manier waarop God vir hulle sorg nie. Daarom stuur Jehovah hierdie giftige slange om die Israeliete te straf. Die slange pik hulle, en baie van hulle gaan dood.

Uiteindelik kom die volk na Moses toe en sê: ‘Ons het gesondig, want ons het teen Jehovah en teen jou gepraat. Bid nou tot Jehovah sodat hy hierdie slange kan wegneem.’

Daarom bid Moses vir die volk. En Jehovah sê vir Moses om hierdie koperslang te maak. Hy sê dit moet op ’n paal gesit word en elkeen wat gepik word, moet daarna kyk. Moses doen net soos God sê. En die mense wat gepik is, kyk na die koperslang en word weer gesond.

Ons kan ’n les hieruit leer. Ons is almal, in ’n sekere sin, soos die Israeliete wat deur daardie slange gepik is. Ons is almal besig om dood te gaan. Kyk net en jy sal sien dat mense oud en siek word en doodgaan. Dit is omdat die eerste man en vrou, Adam en Eva, hulle rug op Jehovah gedraai het, en ons is almal hulle kinders. Maar Jehovah het iets gedoen sodat ons vir ewig kan lewe.

Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gestuur. Jesus is aan ’n paal gehang omdat baie mense gedink het dat hy sleg is. Maar Jehovah het Jesus gegee om ons te red. As ons na hom kyk, as ons hom volg, kan ons ewige lewe kry. Maar ons sal later meer hiervan leer.