Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 43

Josua word leier

Josua word leier

MOSES wil saam met die Israeliete in Kanaän ingaan. Daarom vra hy: ‘Jehovah, laat my deur die Jordaanrivier trek en die goeie land sien.’ Maar Jehovah sê: ‘Dit is genoeg! Moenie weer hieroor praat nie!’ Weet jy hoekom Jehovah dit gesê het?

Dit is oor wat gebeur het toe Moses die rots geslaan het. Onthou, hy en Aäron het Jehovah nie geëer nie. Hulle het nie vir die volk gesê dit was Jehovah wat water uit die rots laat kom nie. Daarom het Jehovah gesê dat hy hulle nie in Kanaän sal laat ingaan nie.

’n Paar maande ná Aäron se dood sê Jehovah vir Moses: ‘Neem Josua, en laat hom voor Eleaʹsar, die priester, en die volk staan. En daar voor hulle almal moet jy vir hulle sê dat Josua die nuwe leier is.’ Moses doen net soos Jehovah sê, soos jy in die prent kan sien.

Dan sê Jehovah vir Josua: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie. Jy sal die Israeliete in die land Kanaän inlei wat ek aan hulle belowe het, en ek sal met jou wees.’

Later sê Jehovah vir Moses om tot bo-op die berg Nebo in die land Moab te klim. Van daar af kan Moses oor die Jordaanrivier kyk en die pragtige land Kanaän sien. Jehovah sê: ‘Dit is die land wat ek belowe het om aan die kinders van Abraham, Isak en Jakob te gee. Ek het jou dit laat sien, maar ek sal jou nie daar laat ingaan nie.’

Moses gaan daar bo-op die berg Nebo dood. Hy was 120 jaar oud. Hy was nog sterk en hy kon nog goed sien. Die volk is baie hartseer en huil omdat Moses dood is. Maar hulle is bly dat Josua hulle nuwe leier is.