Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 45

Deur die Jordaanrivier

Deur die Jordaanrivier

KYK! Die Israeliete trek deur die Jordaanrivier! Maar waar is die water? Omdat dit daardie tyd van die jaar baie reën, was die rivier ’n paar minute vroeër baie vol. Maar nou is al die water weg! En die Israeliete trek op droë grond deur net soos by die Rooi See! Wat het van al die water geword? Kom ons kyk.

Toe die tyd kom dat die Israeliete deur die Jordaanrivier moet trek, het Jehovah Josua vir die volk laat sê: ‘Die priesters moet die verbondsark vat en voor ons uitgaan. Wanneer hulle hulle voete in die water van die Jordaanrivier steek, sal die water ophou vloei.’

Daarom tel die priesters die verbondsark op en dra dit voor die volk uit. Wanneer hulle by die Jordaan kom, loop die priesters tot in die water. Dit vloei baie vinnig en diep. Maar sodra hulle voete die water raak, hou die water op om te vloei! Dit is ’n wonderwerk! Hoër op in die rivier het Jehovah die water opgedam. Daar is dan gou niks water meer in die rivier nie!

Die priesters wat die verbondsark dra, loop tot in die middel van die droë rivier. Kan jy hulle in die prent sien? Terwyl hulle daar staan, loop al die Israeliete op droë grond deur die Jordaanrivier!

Wanneer almal deur is, laat Jehovah Josua vir 12 sterk mans sê: ‘Gaan in die rivier in tot waar die priesters met die verbondsark staan. Tel 12 klippe op en pak hulle op mekaar waar julle vanaand gaan bly. Wanneer julle kinders dan in die toekoms vra wat hierdie klippe beteken, moet julle vir hulle sê dat die water opgehou vloei het toe Jehovah se verbondsark deur die Jordaan getrek het. Die klippe sal julle aan hierdie wonderwerk herinner!’ Josua pak ook 12 klippe waar die priesters in die rivierbedding gestaan het.

Uiteindelik sê Josua vir die priesters wat die verbondsark dra: ‘Klim op uit die Jordaan.’ En sodra hulle dit doen, begin die rivier weer vloei.