Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 46

Die mure van Jerigo

Die mure van Jerigo

WAT laat hierdie mure van Jeʹrigo inmekaarval? Dit lyk asof ’n groot bom hulle getref het. Maar in daardie dae was daar nie bomme nie; hulle het nie eens gewere gehad nie. Dit is nog ’n wonderwerk van Jehovah! Kom ons vind uit hoe dit gebeur het.

Luister wat sê Jehovah vir Josua: ‘Jy en jou soldate moet om die stad trek. Trek ses dae lank een keer elke dag om die stad. Dra die verbondsark saam met julle. Sewe priesters moet voor die ark loop en op hulle horings blaas.

‘Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek. Blaas dan lank op die horings en laat almal ’n groot oorlogskreet skreeu. En die mure sal inmekaarval!’

Josua en die volk doen wat Jehovah sê. Terwyl hulle trek, bly almal stil. Niemand sê ’n woord nie. Al wat ’n mens kan hoor, is die geluid van die horings en die voetstappe. Die vyande van God se volk in Jeʹrigo moes bang gewees het. Kan jy daardie rooi tou sien wat by ’n venster uithang? Wie se venster is dit? Ja, Ragab het gedoen wat die twee spioene vir haar gesê het. Haar hele familie is daar binne en kyk saam met haar wat gebeur.

Uiteindelik, op die sewende dag, nadat hulle sewe keer om die stad getrek het, word die horings geblaas, skreeu die soldate en val die mure inmekaar. Dan sê Josua: ‘Maak almal in die stad dood en verbrand dit. Verbrand alles. Hou net die silwer, goud, koper en yster, en gee dit aan die skatkis van Jehovah se tent.’

Vir die twee spioene sê Josua: ‘Gaan na die huis van Ragab toe, en bring haar en haar hele familie uit.’ Ragab en haar familie word gered, net soos die spioene haar belowe het.