Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 50

Twee dapper vroue

Twee dapper vroue

WANNEER die Israeliete in die moeilikheid kom, roep hulle tot Jehovah. Jehovah verhoor hulle deur dapper leiers te gee om hulle te help. Die Bybel noem hierdie leiers rigters. Josua was die eerste rigter, en party van die rigters ná hom was Otʹniël, Ehud en Samgar. Maar twee van die mense wat Israel help, is vroue wie se name Deboʹra en Jael is.

Deboʹra is ’n profetes. Jehovah sê vir haar wat in die toekoms gaan gebeur, en dan vertel sy vir die volk wat Jehovah sê. Deboʹra is ook ’n rigter. Sy sit altyd onder ’n sekere palmboom in die heuwelland, en mense kom na haar toe vir raad met hulle probleme.

Jabin is nou die koning van Kanaän. Hy het 900 strydwaens. Sy leër is so sterk dat baie van die Israeliete gedwing is om knegte van Jabin te word. Die hoof van koning Jabin se leër se naam is Siʹsera.

Eendag laat Deboʹra vir rigter Barak haal, en sy sê vir hom: ‘Jehovah het gesê: “Vat 10 000 mans en lei hulle na die berg Tabor toe. Daar sal ek Siʹsera na jou toe bring. En ek sal jou die oorwinning oor hom en sy leër gee.”’

Barak sê vir Deboʹra: ‘Ek sal gaan as jy saam met my kom.’ Deboʹra gaan saam, maar sy sê vir Barak: ‘Jy sal nie die eer vir die oorwinning kry nie, want Jehovah sal Siʹsera in die hand van ’n vrou gee.’ En dit is wat gebeur.

Barak trek van die berg Tabor af om teen Siʹsera se soldate te veg. Skielik veroorsaak Jehovah ’n oorstroming, en baie van die vyand se soldate verdrink. Maar Siʹsera klim van sy strydwa af en vlug.

Na ’n ruk kom Siʹsera by Jael se tent. Sy nooi hom in en gee vir hom melk. Dit maak hom vaak, en hy is gou-gou vas aan die slaap. Dan vat Jael ’n tentpen en kap dit in hierdie slegte man se kop in. Later, wanneer Barak daar kom, wys sy vir hom die dooie Siʹsera! Nou kan jy sien dat wat Deboʹra gesê het, waar geword het.

Eindelik word koning Jabin ook doodgemaak, en die Israeliete het weer ’n ruk lank vrede.