Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 51

Rut en Naomi

Rut en Naomi

IN DIE Bybel sal jy ’n boek met die naam Rut kry. Dit is ’n verhaal oor ’n gesin wat gelewe het in die dae toe Israel rigters gehad het. Rut is ’n jong vrou uit die land Moab; sy is nie ’n lid van God se nasie Israel nie. Maar wanneer Rut van die ware God Jehovah leer, kry sy hom baie lief. Naoʹmi is ’n ouer vrou wat Rut gehelp het om van Jehovah te leer.

Naoʹmi is ’n Israelitiese vrou. Sy en haar man en twee seuns het na die land Moab toe getrek toe daar min kos in Israel was. Toe het Naoʹmi se man doodgegaan. Later het Naoʹmi se seuns met twee Moabitiese meisies getrou wie se name Rut en Orpa was. Maar ná omtrent 10 jaar het Naoʹmi se twee seuns doodgegaan. Hoe hartseer was Naoʹmi en die twee meisies tog! Wat sou Naoʹmi nou doen?

Eendag besluit Naoʹmi om op die lang reis terug na haar eie volk toe te gaan. Rut en Orpa wil by haar bly, en daarom gaan hulle saam. Maar nadat hulle ’n ent gegaan het, sê Naoʹmi vir die meisies: ‘Gaan terug huis toe en woon by julle ma’s.’

Naoʹmi groet hulle met ’n soen. Dan begin hulle huil, want hulle is baie lief vir Naoʹmi. Hulle sê: ‘Nee! Ons sal saam met jou na jou volk toe gaan.’ Maar Naoʹmi antwoord: ‘Julle moet teruggaan, my dogters. Dit sal beter met julle gaan by julle huis.’ Toe gaan Orpa terug na haar huis toe. Maar nie Rut nie.

Naoʹmi sê nou vir haar: ‘Orpa het omgedraai. Gaan saam met haar huis toe.’ Maar Rut antwoord: ‘Moenie my probeer wegstuur nie! Laat my saam met jou gaan. Waar jy gaan, sal ek gaan, en waar jy woon, sal ek woon. Jou volk sal my volk wees, en jou God sal my God wees. Waar jy doodgaan, sal ek doodgaan, en dit is waar ek begrawe sal word.’ Wanneer Rut dit sê, hou Naoʹmi op om haar te probeer ompraat om na haar huis toe te gaan.

Uiteindelik kom die twee vroue in Israel aan. Hier kry hulle ’n plek om te woon. Rut begin dadelik op die landerye werk, want dit is tyd vir die garsoes. ’n Man met die naam Boas laat haar in sy landerye gars optel. Weet jy wie was Boas se ma? Dit was Ragab van die stad Jeʹrigo.

Eendag sê Boas vir Rut: ‘Ek het alles van jou gehoor, en hoe goed jy vir Naoʹmi is. Ek weet hoe jy van jou pa en jou ma en jou eie land weggegaan het en hoe jy kom woon het onder ’n volk wat jy nie geken het nie. Mag Jehovah vir jou goed wees!’

Rut antwoord: ‘Jy is baie goed vir my, meneer. Jy laat my beter voel omdat jy so mooi met my praat.’ Boas hou baie van Rut, en kort daarna trou hy met haar. Hoe bly is Naoʹmi tog hieroor! Maar Naoʹmi is selfs blyer wanneer Rut en Boas hulle eerste seun, naamlik Obed, het. Later word Obed die oupa van Dawid, van wie ons later nog baie sal leer.

Die Bybelboek Rut.