Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 55

’n Seuntjie dien God

’n Seuntjie dien God

IS DIT nie ’n mooi seuntjie nie? Sy naam is Samuel. En die man met sy hand op Samuel se kop is Israel se hoëpriester Eli. Dit is Samuel se pa, Elʹkana, en sy ma, Hanna, wat vir Samuel na Eli toe bring.

Samuel is maar vier of vyf jaar oud. Maar hy gaan saam met Eli en die ander priesters hier by Jehovah se tabernakel woon. Hoekom bring Elʹkana en Hanna iemand so jonk soos Samuel om Jehovah by die tabernakel te dien? Kom ons kyk.

Net ’n paar jaar vroeër was Hanna baie hartseer. Dit was omdat sy nie ’n baba kon hê nie, en sy wou baie, baie graag een hê. Daarom het Hanna, toe sy eendag by Jehovah se tabernakel was, gebid: ‘O, Jehovah, moet my nie vergeet nie! As u vir my ’n seun gee, belowe ek dat ek hom aan u sal gee sodat hy u sy hele lewe lank kan dien.’

Jehovah het Hanna se gebed verhoor, en maande later is Samuel gebore. Hanna was lief vir haar seuntjie, en sy het hom van Jehovah begin leer terwyl hy nog baie klein was. Sy het vir haar man gesê: ‘Sodra Samuel oud genoeg is om nie meer gesoog te word nie, sal ek hom na die tabernakel toe neem om Jehovah daar te dien.’

Dit is wat ons Hanna en Elʹkana in die prent sien doen. En omdat Samuel se ouers hom so goed geleer het, is hy bly om Jehovah hier by Sy tent te kan dien. Hanna en Elʹkana kom elke jaar om by hierdie spesiale tent te aanbid en om vir hulle seuntjie te kuier. En elke jaar bring Hanna ’n nuwe moulose oorkleedjie saam wat sy vir Samuel gemaak het.

Die jare gaan verby, en Samuel hou aan om by Jehovah se tabernakel te dien, en Jehovah sowel as die volk hou van hom. Maar hoëpriester Eli se seuns Hofni en Piʹnehas is sleg. Hulle doen allerhande slegte dinge, en hulle kry ander om ook aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Eli moet hulle eintlik as priesters verwyder, maar hy doen dit nie.

Jong Samuel hou nie op om Jehovah te dien nie, al gebeur daar slegte dinge by die tabernakel. Maar omdat so min mense Jehovah regtig liefhet, het Jehovah lank laas met enige mens gepraat. Toe Samuel ’n bietjie ouer is, gebeur die volgende:

Terwyl Samuel in die tabernakel slaap, maak ’n stem hom wakker. Hy antwoord: ‘Hier is ek.’ Hy staan op, hardloop na Eli toe en sê: ‘U het my geroep en hier is ek.’

Maar Eli antwoord: ‘Ek het jou nie geroep nie; gaan terug bed toe.’ Dan gaan Samuel weer bed toe.

’n Tweede keer roep iemand: ‘Samuel!’ Toe staan Samuel op en hardloop weer na Eli toe. ‘U het my geroep en hier is ek’, sê hy. Maar Eli antwoord: ‘Ek het nie geroep nie, my seun. Gaan lê maar weer.’ Dan gaan Samuel terug bed toe.

‘Samuel!’ roep die stem ’n derde keer. Samuel hardloop na Eli toe. ‘Hier is ek, want u móés my hierdie keer geroep het’, sê hy. Eli weet nou dat dit Jehovah moet wees wat roep. Daarom sê hy vir Samuel: ‘Gaan lê weer, en as hy weer roep, moet jy sê: “Spreek, Jehovah, want u kneg luister.”’

Dit is wat Samuel sê wanneer Jehovah weer roep. Jehovah vertel dan vir Samuel dat hy Eli en sy seuns gaan straf. Later word Hofni en Piʹnehas in ’n geveg teen die Filistyne doodgemaak, en wanneer Eli hoor wat gebeur het, val hy agteroor, breek hy sy nek en gaan hy ook dood. Só word Jehovah se woord bewaarheid.

Samuel word groot en word die laaste rigter van Israel. Wanneer hy oud word, vra die volk vir hom: ‘Kies ’n koning om oor ons te regeer.’ Samuel wil dit nie doen nie, want Jehovah is eintlik hulle koning. Maar Jehovah sê vir hom om na die volk te luister.