Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 56

Saul—Israel se eerste koning

Saul—Israel se eerste koning

KYK hoe gooi Samuel olie op die man se kop. Dit is wat hulle met iemand gedoen het om te wys dat hy gekies is om koning te wees. Jehovah sê vir Samuel om die olie op Saul se kop te gooi. Dit is ’n spesiale olie wat lekker ruik.

Saul het nie gedink dat hy goed genoeg is om koning te wees nie. ‘Ek behoort aan die stam Benjamin, die kleinste in Israel’, sê hy vir Samuel. ‘Hoekom sê u dat ek koning sal wees?’ Jehovah hou van Saul omdat hy nie maak of hy groot en belangrik is nie. Dit is hoekom Hy hom kies om koning te wees.

Maar Saul is nie arm of klein nie. Hy kom uit ’n ryk gesin, en hy is ’n baie aantreklike, lang man. Hy is ’n hele kop langer as almal in Israel! Saul kan ook baie vinnig hardloop, en hy is baie sterk. Die volk is bly dat Jehovah Saul gekies het om koning te wees. Hulle begin almal uitroep: ‘Mag die koning lank lewe!’

Israel se vyande is nog so sterk soos altyd. Hulle maak die lewe nog steeds baie moeilik vir die Israeliete. Kort nadat Saul koning gemaak is, kom die Ammoniete om teen hulle te veg. Maar Saul maak ’n groot leër bymekaar en hy wen die geveg teen die Ammoniete. Dit maak die volk baie bly dat Saul koning is.

Met verloop van jare lei Saul die Israeliete sodat hulle baie gevegte teen hulle vyande wen. Saul het ook ’n dapper seun met die naam Joʹnatan. En Joʹnatan help Israel om baie gevegte te wen. Die Filistyne is nog altyd die Israeliete se grootste vyand. Eendag kom duisende der duisende Filistyne om teen die Israeliete te veg.

Samuel sê vir Saul om te wag totdat hy kom om ’n offerande, of gawe, aan Jehovah te bring. Maar Samuel vat lank om te kom. Saul is bang dat die Filistyne die geveg sal begin, en hy bring toe self die offerande. Wanneer Samuel eindelik daar aankom, sê hy vir Saul dat hy ongehoorsaam was. ‘Jehovah gaan iemand anders kies om koning oor Israel te wees’, sê Samuel.

Later is Saul weer ongehoorsaam. Daarom sê Samuel vir hom: ‘Dit is beter om aan Jehovah gehoorsaam te wees as om die beste skaap aan hom te offer. Omdat jy nie gehoorsaam was aan Jehovah nie, sal Jehovah jou nie meer koning van Israel laat wees nie.’

Ons kan ’n goeie les hieruit leer. Dit wys vir ons hoe belangrik dit is om altyd gehoorsaam te wees aan Jehovah. En dit wys dat ’n goeie mens, soos Saul vroeër was, kan verander en sleg word. Ons wil mos nooit sleg word nie, nè?