Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 60

Abigail en Dawid

Abigail en Dawid

WEET jy wie die mooi vrou is wat na Dawid toe kom? Haar naam is Abiʹgail. Sy is wys, en sy keer dat Dawid ’n slegte ding doen. Maar voordat ons hiervan leer, kom ons kyk eers wat intussen met Dawid gebeur het.

Nadat Dawid vir Saul gevlug het, kruip hy in ’n grot weg. Sy broers en die res van sy familie kom bly ook daar. Daar kom altesaam omtrent 400 mans na hom toe, en Dawid word hulle leier. Dan gaan Dawid na die koning van Moab toe en sê: ‘Laat my pa en my ma asseblief by u bly totdat ek sien wat met my gebeur.’ Later begin Dawid en sy manne in die heuwels wegkruip.

Dit is hierna dat Dawid vir Abiʹgail ontmoet. Haar man, Nabal, is ’n ryk boer. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke. Nabal is ’n gemene man. Maar sy vrou Abiʹgail is pragtig. Sy weet ook hoe om te doen wat reg is. Sy red selfs eenkeer haar gesin. Kom ons kyk hoe.

Dawid en sy manne was goed vir Nabal. Hulle het gehelp om sy skape te beskerm. Op ’n dag stuur Dawid ’n paar van sy manne om vir Nabal ’n guns te vra. Dawid se manne kom by Nabal terwyl hy en sy helpers die skape se wol afskeer. Dit is ’n feesdag, en Nabal het baie en lekker kos. Daarom sê Dawid se manne: ‘Ons was goed vir jou. Ons het nie een van jou skape gesteel nie, maar het gehelp om hulle op te pas. Gee nou asseblief vir ons ’n bietjie kos.’

‘Ek sal nie my kos vir mense soos julle gee nie’, sê Nabal. Hy praat baie lelik en sê slegte dinge van Dawid. Toe die mans weer by Dawid kom en vir hom daarvan vertel, is Dawid baie kwaad. ‘Vat julle swaarde!’ sê hy vir sy manne. En hulle gaan uit om Nabal en sy manne dood te maak.

Een van Nabal se manne wat die lelike dinge gehoor het wat Nabal gesê het, vertel vir Abiʹgail wat gebeur het. Abiʹgail maak dadelik kos bymekaar. Sy laai dit op ’n paar donkies en vertrek. Wanneer sy by Dawid kom, klim sy van haar donkie af, buig en sê: ‘Asseblief, meneer, moet u nie aan my man Nabal steur nie. Hy is ’n dwaas en hy doen dwase dinge. Hier is ’n geskenk. Aanvaar dit asseblief, en vergewe ons vir wat gebeur het.’

‘Jy is ’n wyse vrou’, antwoord Dawid. ‘Jy het gekeer dat ek Nabal doodmaak om hom terug te betaal vir sy gemeenheid. Gaan nou in vrede huis toe.’ Later gaan Nabal dood, en Abiʹgail word een van Dawid se vrouens.