Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 61

Dawid word koning gemaak

Dawid word koning gemaak

SAUL probeer weer om vir Dawid te vang. Hy neem 3 000 van sy beste soldate en gaan soek na hom. Wanneer Dawid dit hoor, stuur hy spioene uit om uit te vind waar Saul en sy manne kamp opgeslaan het vir die nag. Dan vra Dawid vir twee van sy manne: ‘Wie van julle sal saam met my na Saul se kamp gaan?’

‘Ek sal’, sê Abiʹsai. Abiʹsai is die seun van Dawid se suster Seruʹja. Terwyl Saul en sy manne slaap, sluip Dawid en Abiʹsai in die kamp in. Hulle vat Saul se spies en sy waterkruik, wat reg langs Saul se kop lê. Niemand sien of hoor hulle nie, want almal is vas aan die slaap.

Kyk nou na Dawid en Abiʹsai. Hulle het weggekom en is veilig bo-op ’n bult. Dawid roep na die hoof van Israel se leër: ‘Abner, hoekom beskerm jy nie jou heer, die koning, nie? Kyk! Waar is sy spies en sy waterkruik?’

Saul word wakker. Hy herken Dawid se stem en vra: ‘Is dit jy, Dawid?’ Kan jy vir Saul en Abner daar onder sien?

‘Ja, my heer die koning’, antwoord Dawid vir Saul. En Dawid vra: ‘Waarom probeer u my vang? Watter slegte ding het ek gedoen? Hier is u spies, o koning. Laat een van u manne dit kom haal.’

‘Ek het gesondig’, erken Saul. ‘Ek het dwaas opgetree.’ Dan gaan Dawid weg, en Saul gaan terug huis toe. Maar Dawid sê vir homself: ‘Een van die dae gaan Saul my doodmaak. Ek moet na die land van die Filistyne vlug.’ En dit is wat hy doen. Dawid kry dit reg om die Filistyne om die bos te lei en hulle te laat glo dat hy nou aan hulle kant is.

’n Ruk later trek die Filistyne op om teen Israel te veg. In die geveg word Saul en Joʹnatan albei doodgemaak. Dit maak Dawid baie hartseer, en hy skryf ’n pragtige lied waarin hy sing: ‘Ek voel hartseer oor jou, my broer Joʹnatan. Hoe lief was ek tog vir jou!’

Hierna gaan Dawid terug na Israel toe en gaan woon hy in die stad Hebron. Daar is oorlog tussen die mense wat Saul se seun Is-Boset as koning wil hê en die mense wat wil hê dat Dawid koning moet wees. Maar uiteindelik wen Dawid se manne. Dawid is 30 jaar oud wanneer hy koning gemaak word. Hy regeer sewe en ’n half jaar lank in Hebron. Party van die seuns wat daar vir hom gebore word, is Amnon, Absalom en Adoʹnia.

Eendag trek Dawid en sy manne op om ’n pragtige stad met die naam Jerusalem oor te neem. Joab, ’n ander seun van Dawid se suster Seruʹja, neem die leiding in die geveg. Daarom beloon Dawid vir Joab deur hom die hoof van sy leër te maak. Dawid begin nou in die stad Jerusalem regeer.