Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 63

Wyse koning Salomo

Wyse koning Salomo

SALOMO is ’n tiener wanneer hy koning word. Hy het Jehovah lief, en hy volg die goeie raad wat sy pa, Dawid, vir hom gegee het. Jehovah hou baie van Salomo, en daarom sê hy een nag vir hom in ’n droom: ‘Salomo, wat wil jy graag hê moet ek vir jou gee?’

Salomo antwoord: ‘Jehovah my God, ek is baie jonk en ek weet nie hoe om te regeer nie. Gee vir my die wysheid om op die regte manier oor u volk te regeer.’

Jehovah is bly oor wat Salomo vra. Daarom sê Hy: ‘Omdat jy wysheid gevra het en nie ’n lang lewe of rykdom nie, sal ek jou meer wysheid gee as enigiemand wat nog ooit gelewe het. Maar ek sal jou ook gee wat jy nie gevra het nie, naamlik rykdom en heerlikheid.’

’n Rukkie daarna kom twee vroue met ’n groot probleem na Salomo toe. ‘Ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis’, verduidelik een van hulle. ‘Ek het ’n babaseuntjie gehad, en twee dae later het sy ook ’n babaseuntjie gehad. Een nag het haar baba doodgegaan. Maar terwyl ek geslaap het, het sy haar dooie kind langs my neergelê en my baba gevat. Toe ek wakker word en na die dooie kind kyk, het ek gesien dat hy nie myne is nie.’

Toe sê die ander vrou: ‘Nee! Die lewende kind is myne, en die dooie is hare!’ Die eerste vrou antwoord: ‘Nee! Die dooie kind is joune, en die lewende is myne!’ Dit is hoe die twee vroue stry. Wat gaan Salomo doen?

Hy laat ’n swaard haal, en wanneer dit gebring word, sê hy: ‘Sny die lewende baba in twee en gee ’n helfte aan elke vrou.’

‘Nee!’ skreeu die regte ma. ‘Moet asseblief nie die baba doodmaak nie. Gee hom vir haar!’ Maar die ander vrou sê: ‘Moet hom nie vir een van ons gee nie; sny hom in twee.’

Uiteindelik praat Salomo: ‘Moenie die kind doodmaak nie! Gee hom vir die eerste vrou. Sy is die regte ma.’ Salomo weet dit, want die regte ma is so lief vir die baba dat sy hom selfs vir die ander vrou sal gee sodat hy nie doodgemaak sal word nie. Wanneer die volk hoor hoe Salomo die probleem opgelos het, is hulle bly dat hulle so ’n wyse koning het.

Gedurende die tyd dat Salomo regeer, seën God die volk deur die grond baie koring en gars, druiwe en vye en ander kos te laat voortbring. Die mense dra mooi klere en woon in goeie huise. Daar is oorgenoeg goeie dinge vir almal.