Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 64

Salomo bou die tempel

Salomo bou die tempel

VOORDAT Dawid doodgegaan het, het hy die plan vir Jehovah se tempel, wat hy van God gekry het, vir Salomo gegee. In die vierde jaar van sy regering begin Salomo die tempel bou, en dit neem sewe en ’n half jaar om dit te klaar te maak. Tienduisende mans werk aan die tempel, en die gebou kos baie, baie geld. Dit is omdat soveel goud en silwer daarvoor gebruik word.

Die tempel het twee hoofkamers, net soos die tabernakel gehad het. Maar hierdie kamers is twee keer so groot soos dié in die tabernakel. Salomo laat hulle die verbondsark in die binneste kamer van die tempel sit, en die ander dinge wat in die tabernakel gehou is, word in die ander kamer gesit.

Wanneer die tempel klaar gebou is, is daar ’n groot fees. Salomo kniel voor die tempel en bid, soos jy in die prent kan sien. ‘Nie eens die hele hemel is groot genoeg om u te bevat nie’, sê Salomo vir Jehovah, ‘hoeveel minder kan hierdie tempel u dan bevat. Maar, o my God, luister asseblief na u volk wanneer hulle na hierdie plek toe bid.’

Wanneer Salomo klaar gebid het, kom daar vuur uit die hemel. Dit verbrand die diere-offers wat gebring is. En ’n helder lig van Jehovah af vul die tempel. Dit wys dat Jehovah luister en dat hy hou van die tempel en Salomo se gebed. Die tempel is nou die plek waarheen die volk kom om te aanbid, nie meer die tabernakel nie.

Salomo regeer ’n lang ruk op ’n wyse manier, en die volk is gelukkig. Maar Salomo trou met baie vroue uit ander lande wat Jehovah nie aanbid nie. Kan jy sien hoe een van hulle die afgod aanbid? Uiteindelik kry Salomo se vrouens hom ook om ander gode te aanbid. Weet jy wat gebeur wanneer Salomo dit doen? Hy behandel die volk nie meer goed nie. Hy word wreed, en die volk is nie meer gelukkig nie.

Dit maak Jehovah kwaad vir Salomo, en hy sê vir hom: ‘Ek sal die koninkryk van jou af wegneem en vir ’n ander man gee. Ek sal dit nie gedurende jou lewe doen nie, maar wanneer jou seun regeer. Maar ek sal nie al die mense van die koninkryk van jou seun af wegneem nie.’ Kom ons kyk hoe dit gebeur.