Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 65

Die koninkryk word verdeel

Die koninkryk word verdeel

WEET jy hoekom hierdie man sy kleed stukkend skeur? Jehovah het vir hom gesê om dit te doen. Hierdie man is God se profeet Ahiʹa. Weet jy wat ’n profeet is? Dit is iemand vir wie God voor die tyd sê wat gaan gebeur.

Ahiʹa praat hier met Jeroʹbeam. Jeroʹbeam is ’n man vir wie Salomo aangestel het om van sy bouwerk te doen. Wanneer Ahiʹa Jeroʹbeam hier op die pad ontmoet, doen Ahiʹa iets eienaardigs. Hy trek sy nuwe kleed uit en skeur dit in 12 stukke. Hy sê vir Jeroʹbeam: ‘Vat vir jou 10 stukke.’ Weet jy hoekom Ahiʹa vir Jeroʹbeam 10 stukke gee?

Ahiʹa verduidelik dat Jehovah die koninkryk van Salomo af gaan wegneem. Hy sê dat Jehovah 10 stamme vir Jeroʹbeam gaan gee. Dit beteken dat daar net twee stamme sal oorbly waaroor Salomo se seun Rehaʹbeam sal regeer.

Wanneer Salomo hoor wat Ahiʹa vir Jeroʹbeam gesê het, word hy baie kwaad. Hy probeer Jeroʹbeam doodmaak. Maar Jeroʹbeam vlug na Egipte toe. Na ’n ruk gaan Salomo dood. Hy was 40 jaar lank koning, maar nou word sy seun Rehaʹbeam koning gemaak. In Egipte hoor Jeroʹbeam dat Salomo dood is, en daarom kom hy terug na Israel toe.

Rehaʹbeam is nie ’n goeie koning nie. Hy behandel die volk selfs slegter as wat sy pa, Salomo, hulle behandel het. Jeroʹbeam en ’n paar ander belangrike mans gaan na koning Rehaʹbeam toe en vra hom om die volk beter te behandel. Maar Rehaʹbeam luister nie. Om die waarheid te sê, hy behandel hulle selfs slegter as vroeër. Daarom maak die volk vir Jeroʹbeam koning oor 10 stamme, maar die twee stamme Benjamin en Juda hou vir Rehaʹbeam as hulle koning.

Jeroʹbeam wil nie hê dat sy volk na Jerusalem toe moet gaan om by Jehovah se tempel te aanbid nie. Daarom maak hy twee goue kalwers en kry hy die mense van die tienstammeryk om hulle te aanbid. Gou is die land vol misdaad en geweld.

Daar is ook moeilikheid in die tweestammeryk. Minder as vyf jaar nadat Rehaʹbeam koning geword het, kom die koning van Egipte teen Jerusalem veg. Hy vat baie skatte uit Jehovah se tempel saam met hom weg. Die tempel bly dus net ’n kort rukkie soos dit was toe dit gebou is.